Die tweede been van die SA XCO-bekerreeks op 2 April by Coetzenburg in Stellenbosch sal deur Paul Roos Gimnasium (PRG) aangebied word.

Hierdie aankondiging is vandeesweek deur PRG en DEVMCO gedoen.

Die gesogte UCI CAT1-ren, wat ’n week ná die Cape Epic en gedurende die skoolvakansie aangebied word, sal gewis vooraanstaande nasionale en internasionale ryers lok.

Ná die sukses van Paul Roos se provinsiale MTB XCO-wedren, wat in April 2021 aangebied is, is die skool die geleentheid gebied om een van 2022 se SA XCO-bekerreeks-fietsrenne aan te bied – ’n eerste vir ’n skool in Suid-Afrika. Voorsiening sal gemaak word vir alle ouderdoms­kategorieë in terme van Fietsry SA se regulasies, wat begin met Nippers (o.10) tot Meesters (60+).

Junior- en elite-ryers sal ook meeding om waardevolle UCI-punte in te samel.

Ryers se vaardighede en fiksheid word getoets oor golwende stroombane (rondtes) met tegniese afdraandes, bospaaie, klipperige paadjies en uitdagende hindernisse.

Coetzenburg is ’n bekende wêreldklasbaan en het geen bekendstelling nodig nie aangesien dit die gasheer vir die UCI-wêreldbeker in 2018 was. Benewens die bestaande struikelblokke soos Wine Barrel, Pick-up-Stix en Rock Garden, sal dit ook ’n nuwe hindernis hê.

Elke rondte sal oor ongeveer 4,6 km strek met opdraandes van 190 m. Die Nippers- en Sprogs-bane sal korter wees, en beloof om baie pret te wees.

“Coetzenburg is een van die beste XCO-bane in Suid-Afrika aangesien dit op dieselfde vlak as wêreldbeker-bane is. Die lang opdraandes bied genoeg verbysteekkans, terwyl die tegniese kenmerke van die baan nie té tegnies is nie, maar steeds baie konsentrasie en goeie lyne vereis om veilig deur elke rondte te kom. Ek is dol oor die Coetzenburg-baan, want die beste ryer gaan gewis wen!”

“XCO het my geleer om nooit moed op te gee nie en om van die begin af voluit te gaan. Jy het nie tyd in ’n XCO-wedren om te rus of jou voet van die ‘petrolpedaal’ af te lig nie. As jy dit doen, verloor jy jou posisie. XCO-atlete het baie meer beheer en beter lynkeuses as ander fietsrydissiplines, en leer jou om by die diep kant in te spring en te kyk hoe lank jy kan oorleef. Ek wil baie graag alle jong aspirant-bergfietsryers aanmoedig om aan hierdie geleentheid te kom deelneem,” sê Tristan Nortje (Imbuko Giant) die SA o.23-nasionale XCO-kampioen vir 2021.

Paul Roos Gimnasium glo as die voorste bergfiets-hoërskool in die land daarin om langtermyn-vaardighede by ryers te kweek. Paul Roos sal die week voor die geleentheid vaardigheidsessies aanbied wat deur sy eie vaardigheidsafrigters gelei word.

Buiten die standaard-renne op die dag sal die program ook ’n vaardigheidskompetisie vir alle o.18-ryers insluit.

Wes-Kaapse MTB-vaardigheidskenners sal deelnemers op die verskillende hindernisse beoordeel, en die vaardigste ryers sal groot pryse ontvang.

V Aanlyn inskrywings vir 2022 is oop by www.cyclingsa.com. Gereelde opdaterings sal by www.paulroos.co.za beskikbaar gestel word.

Kontak info@prgmtb.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.