PRG kraai koning tuis sowel as in Hibbert-toernooie

,

Hokkiespanne van Paul Roos Gimnasium het drie medaljes in die Hibbert-toernooie, wat van Woensdag 30 April tot Saterdag 3 Mei in Gqeberha aangebied is, verower. Die o.14- en o.16-toernooie is […]

Die seëvierende o.16A-hokkiespan van Paul Roos Gimnasium ná hul oortuigende 4-0-oorwinning oor die Hoërskool Grey in die eindstryd van die Hibbert-toernooi in Gqeberha.

Hokkiespanne van Paul Roos Gimnasium het drie medaljes in die Hibbert-toernooie, wat van Woensdag 30 April tot Saterdag 3 Mei in Gqeberha aangebied is, verower.

Die o.14- en o.16-toernooie is deur die Hoërskool Pearson in samewerking met die Hoërskool Grey aangebied, terwyl Grey die gasheer vir die o.19-toernooi was. Dié toernooi word as een van die top-seunshokkietoernooie beskou.

Paul Roos se o.14-span, wat tot nou onoorwonne is, het hul teenstanders oortuigend geklop, met seges oor Selborne (3-0), St. Albans (7-0), die Hoërskool Grey (5-0), Maritzburg College (8-2) en Paarl Gimnasium (halfeindstryd: 7-0). Die span het in die eindstryd kragte gemeet met Sacs en PRG het die ekstra-tyd-uitspele met 5-4 gewen nadat gewone speeltyd met die telbord op 1-1 geëindig het.

PRG se o.16A-span het ook oortuigende oorwinnings in die opbou na die eindstryd behaal, met seges oor Garsfontein (6-0), St. Stithians (3-1), Paarl Gimnasium (3-1), Westville (3-0) en DHS (halfeindstryd: 1-0). In ‘n herhaling van die 2024-eindstryd het PRG teen die Hoërskool Grey in die eindstryd te staan gekom en ‘n 4-0-oorwinning aangeteken.

Die o.19A-span het ook in hul toernooi goed gevaar om in die halfeindstryd met Sacs kragte te meet. Ná ‘n naelbytstryd het PRG in die doodsnikke die wedstryd na ekstra-tyd-uitspele afgedwing, maar moes die knie buig en tevrede wees met ‘n derde-plek-wedstryd teen Garsfontein, wat hulle 2-1 gewen het om die bronsmedalje te verower.

Terwyl die drie A-spanne in Gqeberha deelgeneem het, het die skool se o.19B-, o.16B en o.14B-spanne aan die Winelands Cup in Stellenbosch teen meestal A-spanne deelgeneem. Aan die einde van die week het PRG se o.19B-span ook ‘n bronsmedalje gewen, terwyl die o.16B- en o.14B-span die goue medalje in hul onderskeie ouderdomsgroepe gewen het.

You need to be Logged In to leave a comment.