Die geriewe bied verskillende krieketnette, waaronder een wat draaibalboulspesifiek is, drie vir naatboulers en twee met boulmasjiene, asook ’n konferensiekamer, kombuis en kleedkamer.Foto:


Die Universiteit Stellenbosch, Paul Roos Gimnasium (PRG) en Remgro het ’n selfonderhoudende binnenshuise krieketfasiliteit op die skool se terrein, aangrensend aan die hoofkrieketveld, ontwikkel.

Die nuwe binnenshuise krieketfasiliteit is onlangs teen ’n beraamde koste van nagenoeg R15 miljoen voltooi en sal deur alle betrokke partye gebruik word.

Die fasiliteit pronk met verskillende krieketnette – een wat draaibalboulspesifiek is, drie vir naatboulers en twee met boulmasjiene, asook ’n konferensiekamer, kombuis en kleedkamer.

Prof. Stan du Plessis, bedryfshoof van die US, sê finansiering van Remgro, die US en Paul Roos Gimnasium het hierdie ooreenkoms moontlik gemaak en die US is opgewonde oor die rol wat hierdie fasiliteit sal speel om die gehalte van krieket in Stellenbosch te verhoog.

Volgens André van Staden, die rektor van Paul Roos Gimnasium, is hy opgewonde oor die ontwikkeling van die binnenshuisekrieketfasiliteit, wat baie waarde tot die skool se krieketprogram sal toevoeg. Hy sê die skool sien daarna uit om in vennootskap met die US en Remgro te werk om ’n fasiliteit daar te stel wat studente en die breër Stellenbosch-gemeenskap kan benut.

Volgens Rob Benadie, uitvoerende hoof van die Stellenbosch-akademie vir sport (SAS), sal hierdie projek Stellenbosch se reputasie as ’n sportbestemming wat voorsiening maak vir ’n groot verskeidenheid sportkodes, verder verbeter.

You need to be Logged In to leave a comment.