Een van Paul Roos Gimnasium se gr.8-leerders werk aan die kunsopdrag.Foto: Charmaine Sander Photography


Paul Roos Gimnasium en Investec is opgewonde om die See and Be Seen-kunsuitstalling en -veiling aan te kondig, wat van Dinsdag 19 tot Saterdag 30 Oktober plaasvind.

See and Be Seen is ’n geldinsamelingsprojek ter viering van die skool se 155ste bestaansjaar, veral belangrik in die lig van die onstuimige tye waarin ons verkeer. Fondse wat ingesamel word, is ten bate van die Borg ’n Paul Rooser-inisiatief, wat finansiële verligting bied aan gesinne in die Paul Roos-skoolgemeenskap wat gebuk gaan onder finansiële druk.

“Investec glo dat kuns in ’n kultureel diverse land soos Suid-Afrika ’n manier het om hindernisse af te breek en mense bymekaar te bring,” deel Hugo van der Ahee van Investec.

“Kuns onthul mense en gemeenskappe se verhale en waarhede op ’n manier wat werklik outentiek en betekenisvol is. Hierdie inisiatief van Paul Roos Gimnasium en die kunsgemeenskap van Stellenbosch is ’n perfekte voorbeeld hiervan en ons is trots daarop om deel daarvan te wees.”

Paul Roos en Investec het ook met trots die sleutelvennote aangekondig, waaronder SMAC Gallery, Strauss & Co Fine Art Auctioneers, Spier Arts Trust, die Rupert-museum en Stellenbosch Visio, wat daarna streef om hierdie unieke geleentheid aan te bied om opkomende en gevestigde kunstenaars soos Margaret Courtney-Clarke, Clare Menck, Gavin Rain en Strijdom van der Merwe ten toon te stel.

In die gees van gemeenskapsbetrokkenheid sal talentvolle Paul Roos-leerders vandeesmaand ’n portret-werksessie saam met ander plaaslike skole onderneem.

Hierdie interaktiewe kunservaring, aangebied in vennootskap met die Rupert-museum, sluit in gr.7- tot gr. 11-kunsstudente van Paul Roos Gimnasium, Calling Academy, Hoër Meisieskool Bloemhof en Rhenish Girls’ High School.

Die program sluit in ’n museumtoer en skeppende kunssessies met die kunstenaar-ontwerper en opvoeder Lara Kruger.

Kuns wat by die werksessies vervaardig word, vorm deel van die uitstalling saam met uitgesoekte kunswerke van Paul Roos Gimnasium gr. 8’s se See and Be Seen derdekwartaalkunsopdrag.

As ’n Paul Roos-ouer en geen vreemdeling in die wêreld van kuns en opvoeding as ’n strategiese bestuurskonsultant, is Andi Norton se kundigheid en bydrae tot die See and Be Seen-uitstalling van onskatbare waarde.

Sy onthul die rede vir haar betrokkenheid as volg: “Persoonlik is dit ’n vreugde om te weet dat die geld wat ingesamel word, sal verseker dat seuns uit verskillende agtergronde en gemeenskappe by die ongelooflike opvoeding wat hierdie skool bied, kan baat vind – veral in sulke moeilike ekonomiese tye.”

Die See and Be Seen-kunsuitstalling en -veiling word by Paul Roos Gimnasium aangebied en sluit ’n uitstalling van 19 tot 30 Oktober in met gratis toegang vir die publiek, asook ’n beperkte aantal kaartjies wat beskikbaar is vir die opening en oggendtee op 19 Oktober en ’n skemeronthaal en veiling op 20 Oktober.

. Kontak Karien Winter by kwinter@paulroos.co.za vir inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.