Paul Roos Gimnasium se uitruilprogram bestaan al meer as 10 jaar. Die program behels ’n akademiese en kulturele uitruil met drie Europese skole: Marcq Institution in Lille in Frankryk, Canisius in Almelo in Nederland en Gabriel von Seidl in Bad Tölz in Duitsland.
Altesaam 22 seuns van Paul Roos kry oor ’n tweejaartydperk ’n geleentheid om leerders van elk van hierdie skole in hul ouerhuise te huisves en aan die unieke Suid-Afrikaanse en veral Paul Roos-kultuur bloot te stel. In die tweede jaar besoek die Paul Roos-seuns Europa en word hulle op hul beurt in die huise van die Europese leerders gehuisves.
Tans besoek 22 leerders van Gabriel von Seidl die skool. Hulle was op ’n verskeidenheid kulturele uitstappies na plekke soos Robbeneiland, Kaappunt, Sanccob en Tafelberg en het ook die geleentheid om die eerste Paul Roos-verjaarsdagbal asook ’n Varsitybekerwedstryd by te woon.
Die Paul Roos-seuns vertrek more (Vrydag 8 Maart) na Europa. Die amptelike deel van die toer begin dan in Lille ná ’n ken-mekaar-naweek in Parys, waarna hulle per trein na Almelo en daarna na Munchen reis. Van die hoogtepunte van die toer sluit ’n kransleggingseremonie by Delville-woud, ’n besoek aan Dachau asook ’n besoek aan die Rijksmuseum in.