Hy is ’n kranige koerantleser en nuusvolger, en stel eenvoudig belang in die wêreld om hom.
Dít is hoe die 2022-wenner van die Netwerk24- Blitsbrein Junior-kompetisie beskryf word.
Justin Cowley, ’n gr. 12-leerder aan Paul Roos Gimnasium, is onlangs as die nasionale wenner van die kompetisie aangewys.
Cowley het Donderdag 13 Oktober meer as 600 algemenekennisvrae aanlyn blitsvinnig korrek beantwoord om hierdie besonderse prestasie te behaal.
“Ek is baie trots op my prestasie, want ek neem al van 2019 af elke jaar aan Blitsbrein deel. Hierdie een is vir my baie spesiaal, want dit was die laaste keer dat ek aan Blitsbrein kon deelneem, en toe wen ek,” sê Cowley.
Hy het aanvanklik nie gedink hy sou wen nie, want hy weet die kompetisie lok elke jaar baie deelnemers. “Toe ek my uitslae twee weke later sien, het ek gedink ek staan dalk ’n kans, want dit was baie goed,” vertel die beskeie tiener.
“Ek het ingegaan met die idee van all or nothing, omdat dit my laaste keer was. Ek het so veel vrae moontlik probeer beantwoord, maar as ek nie die antwoord geken het nie, het ek dit oorgeslaan, en as ek min of meer ’n idee gehad het, het ek die opsies uitgeskakel,” voeg hy by.
Cowley het nie iets spesifieks gedoen om vir die kompetisie voor te berei nie, “maar ek lees daagliks koerant en ek bring baie tyd op Instagram en TikTok deur. Dit hou my op hoogte van wat in die wêreld gebeur en ek leer ook baie interessante feite. Ek kyk heeltemal te veel TV – daarom is my sportkennis baie goed.
“Ek het die kompetisie baie geniet, want ek hou baie daarvan as my algemene kennis getoets word en ek nuwe goed kan leer. Omdat ons teen tyd moes werk, het ek baie vinnig deur die vrae gegaan.
“Ek kan nie baie van die vrae onthou nie, maar ek kan onthou van die vrae het oor lande se ministers en presidente gegaan, en enige sportvrae was vir my baie maklik. Die heel moeilikste vrae het ek eerder oorgeslaan.”
Dit het hom tussen 35 en 40 minute geneem om 150 vrae te beantwoord.