Paul Roos Gimnasium (PRG) se teaterproduksie, Vlug, het pas teruggekeer van Potchefstroom waar dit deelgeneem het aan die finale ronde van die ATKV-tienertoneel.

PRG is benoem vir sewe toekennings en Hardus van Staden het weggeloop met die Beste Akteur-toekenning.

Die teks is geskryf deur Esther von Waltsleben wat ook die regie behartig het.

Die konsep van Vlug is geïnspireer deur die klassieke werk van William Golding, Lord of the Flies.

Gedurende ’n tyd van konflik skuil 13 seuns vir hul eie veiligheid in ’n stormwatertonnel wat as bunker vir hulle ingerig is.

Die seuns ken mekaar glad nie en hulle weet nie hoe lank hulle daar gaan moet bly nie. Hulle het alles wat hulle mag nodig kry om te oorleef, maar is op hul eie – sonder enige volwasse toesig.

Die seuns in die tonnel word ’n mikrokosmos van die grootmenswêreld. Reëls vervaag, ordeloosheid groei en kort voor lank is die vyand nie meer ’n bedreiging van buite af nie.

Die geselskap het bestaan uit 18 leerders; 13 akteurs en vyf tegnici.

Die spanbestuurder, Jan-Hendrik Opperman, is bygestaan deur Christine Canaris.

Oudisies is reeds in die eerste week van Februarie gehou waarna repetisies gevolg het.

Die groep het in die eerste kwartaal op ’n toneelkamp na Stilbaai gegaan waar ’n groot deel van die vaslegging van die produksie gedoen is.

Deur die loop van die jaar het die toneelstuk aan vier kompetisies (Namakwaland, Klein Libertas, Durbanville, ATKV) deelgeneem waarvan laasgenoemde die nasionale kompetisie is.

Daar het 200 tienertoneelstukke landwyd deelgeneem en Paul Roos was onder die top-10 skole.

You need to be Logged In to leave a comment.