Die eerste en tweede rugbyspanne van Paul Roos Gimnasium (PRG) het tydens die skoolvakansie aan die NMI-Toyota-Noord-Suid-rugbytoernooi in Pretoria deelgeneem. Hoewel die o.19B-span, alombekend as die Bituas, sy eerste wedstryd teen die gashere, die Afrikaanse Hoër Seunskool, met ’n eindtelling van 18-24 verloor het, was die hoogtepunt van hul toer die oorwinning van 41-16 oor die Hoërskool Waterkloof. Die o.19A-span, het geskiedenis gemaak toe ook Affies die knie moes buig en die manne van Stellenbosch ’n oorwinning van 30-25 kon vier. Die oorwinning is spesiaal, want PRG kon slegs vir die tweede keer nog Affies in twee opeenvolgende jare klop. Die span, wat verlede jaar by die Wildeklawer-toernooi in Kimberley met 31-25 gewen het, volg in die spore van die eerste span van 2006 (25-7) en 2007 (22-15). Dit beteken ook PRG het ná 24 wedstryde tussen die twee spogskole ’n effense voortou, met 12 oorwinnings, twee gelykopuitslae en 10 wedstryde verloor. Die span het die Noord-Suid-rugbytoernooi met ’n pragvertoning afgesluit deur die Hoërskool Waterkloof 47-24 te klop en sodoende die eerste keer sedert die hervatting van die toernooi ná die Covid-19-pandemie onoorwonne terug te keer na die Eikestad.