PRG-tennisspan maak skoonskip

Die o.15-tennispan van Paul Roos Gimnasium is aan die begin van die maand as die land se beste o.15-seunspan gekroon nadat dié span die nasionale o.15-tennistoernooi in Pretoria gewen het.

Die PRG-wenspan met die trofee ná die nasionale o.15-toernooi is Swannie Swanepoel (afrigter), Charl Henning, Xander Pienaar, Willem de Waal, Pieter Kotze, Sebastian Oosthuizen, Herman Roux en Hanno Bouwer.


Die o.15-tennispan van Paul Roos Gimnasium is aan die begin van die maand as die land se beste o.15-seunspan gekroon nadat dié span die nasionale o.15-tennistoernooi in Pretoria gewen het.

Die span het in die eindstryd van die toernooi sy eweknie van Grey College oortuigend 5-1 geklop. Die toernooi is vanjaar deur Pretoria Boys’ High aangebied en is op die bane van Boys’ High en Affies beslis.

Die PRG-wenspan is deur Willem de Waal, Pieter Kotze, Xander Pienaar, Sebastian Oosthuizen, Charl Henning, Hanno Bouwer en Herman Roux verteenwoordig.

Die deelnemende skole was: PRG, Grey College, Kearsney College, Pretoria Boys’ High, Waterkloof, Affies A- en B-span, St. Benedicts, Menlopark en King Edward School (KES).

Die 10 skole het in twee groepe aan ’n rondomtalietoernooi in elke groep deelgeneem. Aan die einde van hierdie fase het die twee groepe oorkruis teen mekaar gespeel om uiteindelik die wenner te bepaal. Die PRG-seuns het al hul wedstryde in die groepfase oortuigend gewen en in die halfeindstryd 5-0 met die span van Kearsney College afgereken.

Die ander uitslae van die PRG-span vir die toernooi was: PRG klop Menlopark 9-0; PRG klop Affies 8-1; PRG klop KES 9-0; en PRG klop St. Benedicts 9-0.

You need to be Logged In to leave a comment.