PRG-uitdaging vir kortflieks begin

Paul Roos Gimnasium in samewerking met Atterbury en WeBuyCars bied ’n jaarlikse fliekkompetisie vir hoërskoolleerders in Suid-Afrika en Namibië aan.


Paul Roos Gimnasium in samewerking met Atterbury en WeBuyCars bied ’n jaarlikse fliekkompetisie vir hoërskoolleerders in Suid-Afrika en Namibië aan.

Die Filmit-kompetisie is die geesteskind van Luize Kroukamp (hoof van kultuur) en Jan-Hendrik Opperman (hoof van kreatiewe kunste en drama) by Paul Roos Gimnasium.

Volgens die organiseerders het die idee vir die kompetisie voortgespruit uit die invloed wat die Covid-19-inperking op die kulturele landskap van skole in 2020 en 2021 het. Met kultuurprogramme, toneelfeeste en -kompetisies wat drasties deur die pandemie beïnvloed is, het dié twee onderwysers besluit om aan te pas by die tye en iets te begin wat nuwe alternatiewe geleenthede vir leerders skep – veral vir diegene met ’n belangstelling in die TV- en fliekbedrywe, wat alewig aan die groei is in Suid-Afrika asook in die res van Afrika.

Hoërskoolleerders van alle skole reg oor Suid-Afrika en in Namibië word genooi om aanbiedings van twee minute op kamera in te dien waarin hul fliekkonsep verduidelik word. Die 20 beste konsepte sal deur ’n paneel van bedryf-verwante beoordelaars vir deelname gekies word.

Die twintig deelnemende skole sal daarna die geleentheid kry om aanlyn meesterklasse deur sleutelfigure in die Suid-Afrikaanse en omliggende Afrikalande se fliekbedrywe by te woon.

Hierdie meesterklasse dien as leiding in die ontwikkeling en vervaardiging van hul kortflieks. Skole word aangemoedig om in spanverband te werk deur die vaardighede van leerders uit verskillende departemente in te span om tot die vervaardiging van die flieks by te dra.

Die kompetisie is nou amptelik oop.

Alle twee-minuut-video-aanbiedings moet teen middernag op 14 Junie ingedien word. Goedgekeurde konsepte sal op 21 Junie aangekondig word en aanlyn meesterklasse begin op 28 Junie. Die voltooide kortflieks moet teen 11 Oktober ingedien word in samehang met ’n plakkaatontwerp. Die publiek sal ’n geleentheid kry om al 20 flieks te kyk en ook hul stem uit te bring deur middel van likes en shares.

Die openbare stem dra 10% gewig in die beoordelingsproses waarna die wenners op 8 November aangekondig sal word.

Die wenkategorieë is as volg:. Beste film (aan ’n spesifieke skool/ produksiespan toegeken);. beste regisseur;. beste draaiboek;. beste kinematograaf/videograaf;. beste fliekmusiek/partituur;. beste spesiale effekte/kreatiwiteit op stel;. beste akteur en aktrise in ’n hoofrol;. beste akteur en aktrise in ’n ondersteunende rol,. Beste grafiese ontwerper (filmplakkaat).

Elke wenkategorie word met ’n geld- en opvoedkundige prys beloon.

Leerders word aangemoedig om met minimale toerusting te werk deur slegs hul slimfone te gebruik of met net een kamera te werk.

Geen buite- of professionele hulp word toegelaat nie.

Skole en hul leerders moet eienaarskap van hul produk neem en die fliekmedium gebruik om hul eie idees en talente ten toon te stel. . Vir navrae, stuur e-pos na filmit@paulroos.co.za

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.