Alle paaie lei hierdie naweek na Paul Roos Gimnasium (PRG), wanneer PRG Grey-Kollege Bloemfontein (GreyBloem) in die eerste interskolestryd sedert 2019 op tuisbodem gaan aandurf. Dit is die eerste groot sportbyeenkoms sedert die Covid-19-pandemie.
Albei skole het ’n ryk geskiedenis van sport en ding sedert 1967 in die interskole-sportdag mee en vanjaar is geen uitsondering nie wanneer hulle mekaar in altesaam 14 verskillende sportsoorte gaan pak.
Met ’n ryker rugbygeskiedenis gaan die oë veral Saterdag in die hoofwedstryd van die week op die toekomstige Springbokke wees wanneer die o.19A-spanne om 14:00 op die PRG-hoofveld mekaar die stryd gaan aansê. Die wedstryd gaan ook op Premiere Interschools uitgesaai word.
Gesamentlik het PRG en GreyBloem 99 Springbokke opgelewer met 54 van hulle wat uit die Maroenmasjien kom. GreyBloem spog ook met 17 Blitsbokke.
Sedert die afskop van die tradisie (1967) het PRG nog net daarin geslaag om Grey-Kollege agt keer te klop – in die jare 2015, 2009, 2006, 2004, 1997, 1994, 1993 en 1991 (agt wenne in 36 jaar). PRG sal egter vanjaar die bordjies wil verhang met GreyBloem wat die laaste vier kragmetings gewen het.
Die sportkodes is onder meer: eSports, gholf, tennis, landloop, debat (Afrikaans en Engels), skaak, muurbal, bergfietsry, swem, waterpolo, hokkie, sokker, tafeltennis en rugby.
Die eSports het reeds Maandag en Dinsdag (15 en 16 Augustus) begin en is regstreeks op SuperSport Schools uitgesaai.
Al die ander sportspanne kompeteer Vrydag teen mekaar. Hoogtepunte, wat ook op SuperSport Schools gestroom sal word, is waterpolo, hokkie en sokker. Die volledige program is op Paul Roos se webwerf te sien by www.paulroos.co.za.
Kaartjies vir die rugby is beskikbaar via Quicket teen R175 vir gereserveerde paviljoensitplekke (beperkte ruimte) en R30 vir algemene toegang (staande of ongereserveerde paviljoensitplekke). Betalings by die hek kan gedoen word in kontant of digitaal – kaart, Snapscan en Zapper. Vooraf-aankope word aanbeveel om teleurstelling te voorkom.