Paul Roos Gimnasium (PRG) se Afrikaanse debat- en redenaarspanne het die afgelope maand by die ATKV-debat- en redenaarskompetisies uitsonderlik gevaar.
Dit sluit in die Dink of Sink–debatkompetisie, die Oppie Tong Af–redenaarskompetisie, die Paul Roos Interskole-debatliga én die Radikale Redenaarskompetisie.
Slegs vier Wes-Kaapse debatspanne het tot die eindronde van die ATKV-debat deurgedring, waarvan PRG drie van dié vier spanne uitmaak. PRG se senior spanne bestaan uit Dirk Guelpa en Steffan Thielen, Christiaan van der Merwe en Rossouw van Niekerk, en Dirkie Aldrich en Altus du Plessis.
PRG se debatspanne slyp gereeld hul tande by PRG se eie Interskole-debatliga. By die mees onlangse liga vir onvoorbereide debat het PRG vyf uit die ses debatte teen hul buurskole gewen. Vyf PRG-spanne het ook aan die Dink of Sink– onvoorbereide debat-afdeling deelgeneem, waar ’n senior span bestaande uit Dirk Guelpa, Steffan Thielen en Altus du Plessies tot die halfeindronde deurgedring het.
Veertien redenaars het vanjaar aan die eerste streekronde van die ATKV-redenaarskompetisie deelgeneem. Stef de Villiers (graad 9), Christiaan Fouche (graad 8), Julian Pratt (graad 8), Altus du Plessis (graad 11), Ian Lubbe (graad 10), Steffan Thielen (graad 11) en Waldo van Zyl (graad 11) het almal tot die halfeindronde deurgedring.
Buiten die ATKV het sewe redenaars aan die jaarlikse Radikale Redenaarskompetisie se eerste ronde deelgeneem. Al sewe het ’n A-gemiddelde behaal, terwyl Jacobus Steenkamp (graad 10), Ian Lubbe en Altus Matthew Hagemeier (graad 12) na die streekeindronde deurgedring het. PRG se redenaars het ook aan die nasionale Oppie TongAf–kompetisie deelgeneem, waar al veertien ’n A-gemiddelde behaal het. Vier van hulle het 90% of hoër behaal. Matthew Ker-Fox (graad 8) en Steffan Thielen het na die nasionale eindronde in Oktober in Gauteng deurgedring.