Paul Roos Gimnasium se gholfspan het Dinsdag 2 Augustus die Nasionale Skole-gholfkampioenskap by die Humewood-gholfklub in Gqeberha gewen.
Altesaam 22 top-skolespanne van oor Suid-Afrika heen het aan die toernooi deelgeneem.
Elke skoolspan het uit vier spelers bestaan, waarvan die drie beste brutotellings van elke span vir elk van die twee 18-putjie-rondes waarin hulle gespeel het, in aanmerking geneem is.
Ná dag een se 18 putjies was PRG met twee houe voor McKinlay Reid van George. Die PRG-spelers het egter op dag twee uitstekende tellings aangeteken.
Aan die voorpunt was die kaptein, Jack Brugman (2022 se WP Junior Houespel-kampioen) met ’n uitstekende 69 (-3) en so ook sy spanmaat Andries van der Vyver 69 (-3).
Andries se tweelingbroer, Nicolas, het ook uitstekende spel gelewer en self 71 (-1) houe gespeel.
Gerard Hartman kon ongelukkig nie sy telling van 74 (+2) verbeter nie en het ’n 78 (+6) aangeteken.
Hierdie puik gekombineerde tellings van die drie beste PRG-leerders (-7) vir die tweede dag van die spel het PRG buite bereik van sy teenstanders geplaas en hulle het gemaklik met vyf houe teen die naaswenners geseëvier, asook ’n verstommende 14 houe beter as die span wat derde geëindig het.
Die nasionale titel is, sover bekend, die eerste sodanige titel vir Paul Roos Gimnasium. Dit is ook die eerste keer in die roemryke anale van die SA hoërskoletoernooi dat ’n wenspan se gesamentlike tellings vir die twee rondes onder baansyfer was (-3).
Andries het ook die individuele titel met Devon Valentine van Grey High op (-5) gedeel.