Suid-Afrikaanse bioloë en omgewingskundiges het spesifieke prioriteite uitgestippel waarop navorsers kan fokus om die land se plant- en diererykdom en veral die Kaapse Floristiese Streek ten beste in die volgende dekade te bewaar. 

Dié prioriteite is in drie onlangse artikels in vaktydskrifte vervat. Navorsers wat daarby betrokke was, reken ’n fokus daarop kan help om kwessies wat in die onlangse Nasionale Biodiversiteitsopname uitgelig word, aan te spreek.

 Die artikels is gesamentlik deur plaaslike en internasionale kundiges opgestel. Daarin word kwessies soos omgewingsverandering, rampe, die toenemende omheining van grondgebied, die handel in natuurlewe, versnelde grondhervorming en veranderinge in grondgebruik uitgelig. Volgens die betrokke navorsers is die kwessies dikwels dwarssnydend en interdissiplinêr.

In die meeste gevalle sal dit ’n gesamentlike poging tussen navorsers in die biologiese, sosiale en geesteswetenskappe verg om op te los, tesame met broodnodige ondersteuning vanaf gemeenskappe, praktisyns en lede van die publiek. 

“Uit al drie hierdie artikels is dit duidelik dat die uitdagings wat ons op biodiversiteitsgebied in die gesig staar, groter is as wat die biologiese wetenskappe alleen kan oplos,” sê een van die kenners wat tot al drie publikasies bygedra het, prof Karen Esler van die Universiteit Stellenbosch se Departement Bewaringsekologie en Entomologie.

“Dit verg eerder ’n interdissiplinêre poging, strategiese kommunikasie, opvoeding en betrokkenheid.”

Fokus op die Mediterreense streek Sewe navorsingsprioriteite wat oor die volgende dekade belangrik is vir die bewaring van die Kaapse Floristiese Streek (KFS), is in die South African Journal of Science (SAJS) gepubliseer. Dit sluit onder meer die temas van doeltreffende bewaringsbestuur en verbeterde beleid en optrede wat effektiewe bewaring kan verseker. Die KFS maak ’n belangrike deel van die Mediterreense klimaatstreek uit, en is die tuiste van een van die wêreld se ses unieke biome.

Die artikel in SAJS is geskryf deur dr Nicky Allsopp van die Fynbos-node van die Suid-Afrikaanse Omgewingsobservasienetwerk SAEON, dr Jasper Slingsby van SAEON en die Universiteit van Kaapstad, en prof Karen Esler van die Universiteit Stellenbosch.“Die bewaringsgemeenskap wie se opinie ons gevra het, erken implisiet dat navorsing uit verskillende dissiplines en ’n mengsel van benaderings nodig is om die bewaring van die Kaapse Floristiese-streek te verseker. Dis veral belangrik te midde van veranderinge binne ons samelewing, regeringstelsels en biologiese sisteme,” sê dr Allsopp.

Die prioriteitslys vir die Kaapse Floristiese Streek vloei voort uit ’n veel groter studie wat die dreigende kwessies onder die loep geneem het wat die wêreld se Mediterreense-klimaatstreke in die gesig staar. Van regeringslui, navorsers en omgewingskonsultante tot grondeienaars, boere, sakelui en die mynbousektor se mening is hierin gevra. Dié opname was ’n gesamentlike poging tussen lede van die Vereniging vir Bewaringsbiologie se Europese been (’n internasionale netwerk van professionele persone wat gemoeid is met biodiversiteitsbewaring), en die Internasionale Vereniging vir Ekoloë in die Mediterreense streek, SOMED. Laasgenoemde bevorder navorsing, bewaringsinisiatiewe en ’n groter bewustheid oor die biologiese verskeidenheid wat in die wêreld se Mediterreense-klimaatstreke gevind word.

Dié streke, wat tipies droë somers en nat winters ervaar, word op vyf vastelande van die wêreld (Europa, Afrika, Noord- en Suid-Amerika en Australië) gevind. Die Wes-Kaap en ’n gedeelte van die Oos-Kaap val onder die Mediterreense streek, en die unieke fynbos-biodiversiteit wat daar voorkom is ’n uitvloeisel daarvan. 

Die belangrikste navorsingsprioriteite vir die Mediterreense klimaatstreke is in ’n artikel in die vaktydskrif Conservation Science and Practice vervat. Oorkoepelende kwessies soos klimaatsverandering, die bestuur van menslike aktiwiteite binne en buite beskermde gebiede, die bestuur van brande en spesies, asook die behoefte aan groter betrokkenheid deur die publiek is geopper.Die hoofskrywer van die artikel, Francisco Moreira, is verbonde aan twee Portugese universiteite en die Vereniging vir die Bewaringsbiologie.

Prioriteite vir Suid-Afrika

’n Lys prioriteite vir die bewaring van Suid-Afrika se biodiversiteit is ná ’n onverwante oefening saamgestel en in die vaktydskrif Ambio (’n tydskrif oor die mens se omgewing) gepubliseer. Dit bevat die mening 17 Suid-Afrikaanse navorsers wat werksaam is by plaaslike universiteite en navorsingsinstellings.

Colleen Seymour, hoofwetenskaplike van die Suid-Afrikaanse instituut vir Biodiversiteit in Kaapstad, is die hoofskrywer daarvan. Seymour sê die geïdentifiseerde prioriteite spruit uit ’n sogenaamde “horizon scan”-oefening. Dit wys ontluikende prioriteite uit, asook kwessies wat oor die volgende vyf ná tien jaar ’n groter rol in biodiversiteitsbewaring gaan speel.

Volgens Seymour is dit die eerste keer dat so ’n “horizon scan” oefening vir Suid-Afrika of enige ander land in Afrika gedoen is. Die tien belangrikste opkomende bedreigings en geleenthede wat van belang is vir die bewaring van Suid-Afrika se biodiversiteit, sluit in stygende populisme en Rampbestuur waarin korttermynbesluite gemaak word wat nie die bewaring van biodiversiteit in ag neem nie.

Volgens Seymour en haar mede-outeurs is geeneen van die opkomende kwessies waarlik “onoplosbaar” of “chaoties” nie.

“Baie van die kwessies wat ons uitlig is ook relevant vir ander lande in ons streek, en bes moontlik ook vir die res van die kontinent, gegewe die talle ooreenkomste ten opsigte sosio-ekonomiese toestande en biodiversiteitskwessies tussen Afrikalande,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.