Die jongwyne van 2023 wat ingeskryf is, sal om 17 gesogte trofeë in verskillende klasse meeding.

Credit: SYSTEM

Die beoordeling van die jongwyne van die 2023-oesjaar was verlede week (24 tot 28 Julie) in volle gang, met meer as 1 250 inskrywings wat meeding vir die toptrofeë, sowel as goue, silwer- en bronsmedaljes – by die SA Jongwynskou in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl.

Die SA Jongwynskou is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld, dateer terug tot 1833 en is nou in sy 191ste jaar.

Die Kaap die Goeie Hoop-landbougenootskap, wat in 1996 die bemarkingsnaam Agri-Expo gevestig het, is oor al die jare aktief by die SA Jongwynskou as eienaar van hierdie merkwaardige wynskou betrokke en handhaaf vandag nog sy verbintenis ook as beskermheer. As sulks het Agri-Expo die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) as organiseerder toevertrou met die besonder indrukwekkende versameling goue en silwer trofeë, wat jaarliks aan die wenner-wynmakers toegeken word.

Die jongwyne van 2023 wat ingeskryf is, sal om 17 gesogte trofeë in die verskillende klasse meeding, met slegs een van die inskrywings wat as die algehele kampioenwyn van die jaar gekroon sal word en die gesogte Generaal Smuts-trofee sal ontvang, wat al sedert 1952 uitgeloof word.

Terselfdertyd sal die Pietman Hugo-trofee aan die kelder met die hoogste aantal punte vir inskrywings in vyf kategorieë oorhandig word. Altesaam 14 panele met meer as 65 beoordelaars sal bevoorreg wees om die beste jongwyne van vanjaar te kies.

Die klasse wat vanjaar die meeste inskrywings gelok het, was ander rooi kultivars, chenin blanc, sauvignon blanc, chardonnay, rooi versnitwyne, shiraz, pinotage en cabernet sauvignon.

Die 17 mededingende kategorieë vir SA kampioen-glorie onder die witwyne is chenin blanc, chardonnay, sauvignon blanc, sémillon, ander wit kultivars, droë wit versnitte, effe-droë witwyne en edel laatoes.

Onder die rooiwyne, word trofeë toegeken vir die beste cabernet sauvignon, merlot, pinotage, shiraz, ander rooi kultivars en droë rooi versnitte. Die gefortifiseerde klas se trofeë behels uitnemende Kaapse port-style, dessertwyn en muskadel.

Die omvattende beoordelingsproses gaan vanjaar gepaard met goeie nuus vir wynliefhebbers, naamlik dat Suid-Afrika weer eens ’n uitstekende wynoes opgelewer het. Wynmakers is dit eens dat wyne van besonderse gehalte vanjaar gemaak is, ondanks aansienlik wisselende en uitdagende klimaatstoestande gedurende die groei- en oesperiodes. Verbruikers kan daarna uitsien om die 2023-wyne te geniet wanneer hulle gebotteleer is.

“Ons is beïndruk met die gehalte van vanjaar se wyne wat ingeskryf is, ondanks ’n moeilike parstyd, en hierdie positiewe stemming in die bedryf word ook weerspieël in die toename van wyne wat uit al die gebiede ingeskryf is,” sê die SANWSV-voorsitter, Christo Pienaar.

Die Jongwynskou pronk die afgelope vyf jaar met ’n groot aansporing vir die twee hooftrofeë-wenners.

’n Vennootskap tussen die organiseerders en Porex SA – ’n prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboukundige toerusting aan die bedryf – is gesluit, waardeur die twee onderskeie wenners van die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë vir ’n sesdaagse reis na oorsese wynlande geborg sal word.

Die organiseerders het ook aangekondig dat die SA Jongwynskou die afgelope jaar ’n verdere vyf finansiële vennote by die skou verwelkom het. Dié vyf maatskappye is almal bekende verskaffers aan die wynbedryf, naamlik Anchor Technology, Enartis, Laffort, Nexus en Standard Bank. Hul verteenwoordigers het die afgelope week almal by die beoordeling op Nederburg besoek afgelê.

“Ons is baie opgewonde oor die ondersteuning van al ons vennote by hierdie merkwaardige wynskou, wat tot die voordeel van die hele bedryf sal wees.

“Hiermee verseker hulle ’n blink toekoms vir die Jongwynskou, wat as ‘die juweel’ van die bedryf bekendstaan,” sê Bennie Howard, ondervoorsitter van die SANWSV.

Die prysuitdelingseremonie word Vrydag 25 Augustus deur die Paarl Jongwynstreek by die Dawn Mountains sentrum naby die Paarl aangebied, voorafgegaan deur ’n proe van al die gouemedaljewenners van 2023.

You need to be Logged In to leave a comment.