Prof. Hermann Giliomee (86) se aktiewe burgerskap en sy bydrae tot die plaaslike en internasionale geskiedenis en politiek het hom ’n munisipale ereburgerskap besorg.
Die Stellenbosch-munisipaliteit het die toekenning Vrydag (13 Desember) tydens ’n spesiale seremonie oorhandig. Volgens die raadslid Esther Groenewald was die gehalte van Giliomee, ’n wêreldbekende historikus en politieke skrywer, se bydraes tydens die wyksvergaderings besonders. Dit was juis die komitee van wyk 22 wat Giliomee vir die munisipale eer benoem het.
“Tydens die huisvergaderings in Dalsig was sy bydraes ’n diepsinnige kyk oor die gebied. Eerlik, snydend en feitlik is die kenmerke van sy kennis. Hy is ’n skerp luisteraar, en sy kelders vol wysheid is ’n aanwins vir almal van Dalsig tot die internasionale gemeenskap,” sê Groenewald.
’n Ereburgerskap is ná ’n streng proses en deur ’n onafhanklike paneel toegeken.
Giliomee het op sy beurt die munisipaliteit vir dié eer bedank. Hy sê hoewel ’n historikus dikwels verwyt en blameer word, dit ’n voorreg was om Afrikaners sowel as bruinmense se geskiedenis te kon opskryf.
“Suid-Afrika is ’n moeilike land en om iets hier reg te kry verg vernuf, geduld en genade. Dit is waarom dit ook ’n voorreg was om die geskiedenis op te skryf,” meen hy.
Volgens sy dogter, Adrienne Giliomee, is die Eikestad en haar pa se lewe saam geweef.
“Vandag is ’n besonderse dag, veral omdat Stellenbosch so baie vir hom beteken. Dit was altyd vir hom belangrik om geskiedenis ‘reg’ en feitelik op te teken. Ek dink daarom beteken veral Nog altyd hier gewees so baie vir hom,” sê sy.
Ná meer as 50 jaar in die dorp is Giliomee en sy vrou, Annette, deesdae inwoners van La Clémence-aftreeoord.