Die eienaardige plataanboom pronk voor die administrasiegebou van die Universiteit Stellenbosch.Foto:


Die mooiste lanings bome in Stellenbosch is sekerlik die plataan­laning van Victoriastraat en Lanzeracweg.

Hulle oortref die mengsel jong en ou eike in die Laan, wat wel ’n eie bekoring het. Die voorkoms van hierdie sierlike lanings wissel met die seisoene: In die somer is dit lowergroen, dan verkleur die blare na goue herfskleure en in die winter is die takke kaal.

Die plataan, ook bekend as die Londense plataan, is waarskynlik ’n kruising tussen die Oosterse plataan (Platanus orientalis) en die Amerikaanse sycamore (Platanus occidentalis) en kry die wetenskaplike naam Platanus x acerfolium.

Baie van die plataanbome van Victoriastraat is waarskynlik destyds deur prof. John Todd Morrison geplant wie se woonhuis in die straat was.

Prof. Morrison was ’n Skotse wetenskaplike wat in 1891 as professor in fisika en chemie aan die Victoria College, wat in 1918 die Universiteit Stellenbosch geword het, aangestel is.

Hy het in 1906 professor in toegepaste wiskunde geword en was van 1926 tot sy aftrede in 1934 professor in fisika.

Met sy ondersoekende gees en dalk ’n skeut humorsin daarby, het prof. Morrison op ’n dag ’n Londense plataan met sy gladde bas op ’n Oosterse plataan met growwe bas, baie soos dié van ’n akkerboom, geënt en dit skuins voor die administrasiegebou van die universiteit geplant.

Dit is ook moontlik dat hy eers die growwebas-plataan geplant het, en toe besluit het dit pas nie in nie en gevolglik die gladdebas daarop geënt het.

Vandag is dit ’n reuseboom met die voorkoms van ’n plataan wat op ’n een meter hoë akkerboomstam geënt is.

Talle studente loop daagliks verby hierdie ongewone plataanboom en ’n mens wonder of dit hul oog vang.

You need to be Logged In to leave a comment.