Prof. Thuli Madonsela vertrek die komende naweek op die Pelgrimstog van Hoop.

Credit: SYSTEM

Sy is alombekend vir haar eindelose werk vir geregtigheid, maar dié naweek gaan prof. Thuli Madonsela, direkteur van die Leerstoel vir Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), haar stapstewels vasmaak om ’n ander soort pelgrimstog aan te pak.

Madonsela, die voormalige openbare beskermer, maak litte los vir ’n uitdaging wat volharding en toewyding verg – die Pelgrimstog van Hoop. Sy is vasbeslote om ’n 300 km-roete van Stellenbosch tot by Kaap Agulhas te stap om geld vir #Action4Inclusion te werf. Dit is ’n inisiatief wat daarop ingestel is om historiese skuld uit te wis wat in die weg van studenteregistrasie staan.

Die inisiatief is deur die US van stapel gestuur met die hoofdoel om finansiële hindernisse in opvoeding uit die weg te ruim. Historiese studieskuld word uitgewis en meer studente word dan in staat gestel om te registreer en hul opvoedkundige drome na te streef.

Die Pelgrimstog van Hoop, ’n gewilde netwerk staproetes in die Wes-Kaap, simboliseer die moeilike reis wat party studente moet aandurf om toegang tot opvoeding te kry. Die ekspedisie vertrek hierdie naweek – Saterdag 19 en Sondag 20 Augustus – en gaan dan voort in Oktober, vir 13 opeenvolgende dae.

Die tog begin Saterdag in Stellenbosch, wanneer Madonsela 15 km aflê tot in Pniël, en die volgende dag 20 km van Pniël tot in Franschhoek. Hierdie ervaring word aangebied in samewerking met Visit Stellenbosch en die Pelgrimstog van Hoop.

Diegene wat belangstel om deel te neem, is welkom om by Madonsela en ander besielende leiers en entrepreneurs aan te sluit om hierdie projek te begin.

Elke tree wat Madonsela op hierdie reis neem, verteenwoordig ’n tree vorentoe vir ’n toekoms waarin opvoeding ’n reg is, nie ’n voorreg nie. Die US se #Action4Inclusion en die Pelgrimstog van Hoop demonstreer die krag wat kollektiewe optrede het om kwessies van maatskaplike geregtigheid op te los en verandering in opvoeding voort te dryf.

Kaartjies kos R600 per dag en sluit logistieke ondersteuning, ’n hoed, peuselhappies, tradisionele roosterkoek vir middagete en vervoer terug na die beginpunt in, plus ’n stewige bydrae tot #Action4Inclusion. Plek is beperk, daarom word belangstellendes versoek om betyds op Quicket by https://qkt.io/Thuli te bespreek.

. Besoek asseblief https://matiesalumni.com/action4inclusion/ vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.