Prof. Wim gaan ná ‘n dekade rus

,

Yaël Malgas Ná ‘n dekade in die warmstoel as rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch maak prof. Wim de Villiers plek vir sy opvolger en sluit amptelik sy “rustelose […]


Yaël Malgas

Ná ‘n dekade in die warmstoel as rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch maak prof. Wim de Villiers plek vir sy opvolger en sluit amptelik sy “rustelose dekade” af.

De Villiers het die leisels van die US op 1 April 2015 oorgeneem nadat sy voorganger, prof. Russel Botman, onverwags oorlede is. Volgens De Villiers spreek Gekkedag juis tot sy tyd as rektor, maar ook die sin vir humor wat hom deur onder meer sy ampstermyn gedra het.

Dié Stellenbosch-seun is gebore en getoë in die Eikestad en nadat hy by Paul Roos Gimnasium matrikuleer het, het hy medies aan die US begin studeer.

“Die universiteit is gewis ‘n beter universiteit as dié waar ek in 1983 gegradueer het en ook as wat ek in 2015 aangetref het,” sê hy. “En dit is nie as gevolg van my nie – ek moet liewer sê ‘ten spyte van my’,” skerts hy.

Die prof bieg hy weet nie mooi wat presies hy van volgende Dinsdag af gaan doen wanneer prof. Deresh Ramjugernath in die amp tree nie, maar hy is seker hy kort ‘n vakansie. “Hierdie was my lewe en my passie – my verantwoordelikheid vir die afgelope 10 jaar. Ek het ‘n wonderlike vrou [Catherine] wat my dit help doen het en sonder wie se steun ek dit nie sou reggekry het nie.”

Hoewel hy dalk nou meer tyd het vir “honde en kleinkinders” blyk dit nie De Villiers wil agteroor gaan sit nie.

Hy is ‘n gekwalifiseerde internis – ‘n beroep wat hom goed te pas gekom het as rektor, meen De Villiers. “Ek het die universiteit as ‘n pasiënt beskou en dit was belangrik om na die pasiënt te luister. Wanneer studente as 18- of 19-jariges hier begin, is die hoop dat hul beskouings en denkwyse sal verander en wanneer hulle ná vier jaar gradueer, hulle ‘n transformatiewe proses ondergaan het.”

Navorsing, die internasionalisering van die universiteit, om die universiteit finansieel volhoubaar te hou en transformasie was De Villiers se fokusse.

Dit was onder meer sy strewe na globaliserings en transformasies, wat die verandering in die US se taalbeleid ingesluit het, wat geweldige kritiek teen De Villiers gelok het. Hiermee saam was daar in die afgelope dekade studentebetogings, aantygings van nepotisme teen De Villiers en die onlangse Wilgenhof-koshuis-sage.

Talle Stellenbossers kla die US vererger verkeersprobleme, dat studente agtelosig is as dit by hul veiligheid kom en dat hulle plek-plek die dorp op horings neem.

De Villiers sê egter Stellenbosch, die dorp en die US het ‘n simbiotiese verhouding. “Ons weet waarmee die universiteit goed is, maar ons moet ook dink waarvoor ons goed is. Daar is vele voorbeelde, maar die Thuthuzela-sentrum in Idasvallei staan onmiddellik vir my uit.”

Die Thuthuzela-sentrums is ‘n nasionale program wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gedryf word as ‘n plek van veiligheid vir slagoffers van geweld.

“Die eerste jaar se statisieke is oorweldigend. Van die meer as 400 gevalle wat aangemeld is, is kinders by 200 betrokke. Dit breek ‘n mens se hart en spreek tot ‘n spesifieke probleem, maar die data en praktiese ervaring wat ons maatskaplike en mediese studente hier opdoen, kan gebruik word om die groter epidemie aan te pak.”

Oor sy kritici sê De Villiers daar sal altyd geraas wees. Hy meen ‘n dik vel is nodig. Die talle spotprente teen sy kantoormure spreek van De Villiers se aanvaarding van hierdie feit.

The main thing about the main thing is the main thing – jy moet gefokus bly! Daar is ook die noise to signal ratio. Die amp kom met baie geraas en dit kom van oral af. Soms is die geraas belangrik en soms is dit net geraas – en in die meeste gevalle is dit eenvoudig net geraas. Jy moet op die akademie fokus.”

Wanneer hy nie op die akademie gefokus het nie, het die prof gestap, fietsgery en gehardloop. Hy bieg egter sy dae van hardloop is verby aangesien sy knieë nou vodde is. Soos baie akademici het hy ‘n liefde vir lees en dink selfs daaraan om sy “rustelose dekade” neer te pen.

Hy het reeds ‘n titel vir die boek wat spreek van sy rol as geneesheer en ook as akademikus – Van rektum tot rektor.

De Villiers sê die afskeid is bittersoet, maar hy is vol vertoue dat prof. Ramjugernath die US “na sy volgende hoogte sal lei”.

You need to be Logged In to leave a comment.