Die Universiteit Stellenbosch (US) se senaat het Vrydag (24 Maart) met ’n oorweldigende meerderheid ’n mosie van vertroue in en ondersteuning aan die rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, en sy bestuurspan in hul strewe na inklusiwiteit en veeltaligheid aan die US aanvaar.
Dít was te midde van ’n beroep om ’n dringende mosie van wantroue teen De Villiers deur die US-raadslid en DA-LP, dr. Leon Schreiber, rakende die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) se onlangse verslag dat die US Afrikaanse studente se menseregte geskend het deur die implementering van ’n beleid van “slegs Engels” in sekere koshuise tydens die 2021-verwelkomingstydperk.
Die mosie van vertroue is ter tafel gelê deur prof. Geo Quinot van die fakulteit regsgeleerdheid en is gesekondeer deur prof. Mbulungeni Madiba, die dekaan van die fakulteit opvoedkunde.
Luidens die mosie, met kennisname van die SAMRK se verslag van 14 Maart en die US se reaksie daarop, bevestig die senaat sy vertroue in en ondersteuning van die rektor en visekanselier en sy bestuurspan in hul strewe na inklusiwiteit en veeltaligheid by die US.?
Ter motivering van die mosie het prof. Quinot gesê die US se akademiese leiers is verbind tot veeltaligheid soos uiteengesit deur die US-taalbeleid en aangedui deur die wydverspreide implementering daarvan deur die universiteitsgemeenskap.
“Die nie-nakoming of verkeerde implementering van sodanige beleid deur sekere groepe en/of individue in spesifieke kontekste binne die instelling ondersteun nie ’n mosie van wantroue in die rektor nie, maar eerder die voortgesette besinning deur die universiteitsgemeenskap oor hoe om ten beste ’n inklusiewe en veeltalige instelling te word waar almal se regte beskerm en bevorder word, en ondersteuning van die bestuur, insluitend die rektor, om ’n inklusiewe en veeltalige gemeenskap deur die doeltreffende en goed deurdagte implementering van relevante beleide in ’n kompleks, diverse en groot instelling te verwesenlik.
“Sodanige samewerkende strewe sal gepas wees om uitvoering te gee aan die grondwetlike verantwoordelikheid om die onregte van die verlede en die verwesenliking van gelykheid vir almal reg te stel,” het Quinot bygevoeg.
Prof. Madiba het die mosie ondersteun en gesê hy en die dekane beskou “die beoogde mosie van wantroue as ’n ernstige saak van kommer – nie net vir die rektor nie, maar vir ons almal, aangesien taalbeleid en beplanningsake by hierdie universiteit ’n kollektiewe en samewerkende poging is”.
“As een van die voorste kenners van taalbeleid en beplanning kan ek met vertroue sê die beoogde mosie van wantroue teen die rektor het geen grondslag nie. Wat ons universiteit met betrekking tot veeltaligheid bereik het, word nie deur die meeste universiteite in die land geëwenaar nie.”
Hy het bygevoeg dat die taalbeleid deur verskeie howe, insluitend die konstitusionele hof, ondersoek is. “Selfs die verslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie kon geen fout vind met betrekking tot ons taalbeleid nie, behalwe een frase wat dit aanbeveel wat verander moet word. Ons sê nie ons taalbeleid is perfek nie, aangesien daar nie so ’n beleid in die wêreld is nie. Die bestuur, onder leiding van die rektor, het nog altyd ’n verbintenis tot inklusiewe veeltaligheid getoon en het ook die nodige begroting vir implementering verskaf.”
“Ons begroting vir veeltaligheid is ver bo die begroting van die meeste ander universiteite in die land. Alhoewel dit waar kan wees dat ons taalbeleid volgens die SAMRK-verslag nie korrek deur studente by slegs twee uit 31 koshuise gedurende die oriënteringstydperk geïnterpreteer is nie, kan hierdie foute nie gesien word as verteenwoordigend van die stand van taalbeleidsimplementering in die universiteit en die algehele prestasie van die rektor met betrekking tot die implementering van veeltaligheid by die universiteit nie.”
Hy het afgesluit deur te sê “baie goeie suksesverhale bestaan om te vertel met betrekking tot die implementering van inklusiewe veeltaligheid by ons universiteit, wat die betrokke raadslid verkies om in die nastrewing van sy beoogde wantrouestemming te ignoreer”.
Die rektor en die vestuurspan het hulle vir die bespreking van die mosie van die vergadering verskoon.. Die senaat bestaan uit die professore van die universiteit, die rektor se bestuurspan, twee raadslede en verteenwoordigers van onder meer die studenteraad, permanente akademiese personeel en administratiewe personeel.
Die senaat is verantwoordelik en verantwoordbaar teenoor die raad vir die akademiese en navorsingsfunksies van die universiteit. Die senaat reguleer leer, onderrig, navorsing en akademiesesteunfunksies aan die universiteit en doen aanbevelings aan die raad oor beleide rakende akademiese aangeleenthede.