Projek help plaaslike leerders ‘speel-speel’

Altesaam 40 gr. 8-leerders van Cloetesville en Idasvallei gaan deel uitmaak van ’n onderwysloodsprojek wat daarop gemik is om die wiskunde-, lees- en rekenaarvaardigheid by leerders wat akademies sukkel te verbeter.


Altesaam 40 gr. 8-leerders van Cloetesville en Idasvallei gaan deel uitmaak van ’n onderwysloodsprojek wat daarop gemik is om die wiskunde-, lees- en rekenaarvaardigheid by leerders wat akademies sukkel te verbeter.

Die projek, Wiskunde, Speel-Speel, word deur die Stellenbosch Co-management Forum (SMF), bestaande uit sakelui, die Khoisan-kultuurgroep, onderwysers, die Vlakte-groep, godsdiensgroepe en die Stellenbosch-munisipale werkgroepe, gedryf.

“Die doel is om ’n liefde by leerders te kweek vir wiskunde, lees en rekenaarvaardigheid. Vakke gaan deur kenners van die vakgebied aangebied word. Dit gaan by die Ou Lückhoff-gebou vanaf 15:00 tot 17:00 smiddae plaasvind en vervoer is ook van die skole af beskikbaar,” sê ds. Danny Bock van SMF.

Bock sê die projek maak vanjaar slegs voorsiening vir Afrikaanssprekende leerders weens ’n tekort aan finansiering, maar dat SMF hoop om te kan uitbrei, veral na Khayamandi.

“Die projek word gefinansier deur die Jannie Mouton-stigting om veral die oorhoofse kostes te kan dek, maar ’n klein fooi van R180 per leerder per maand word vereis om te help met verdere kostes. Die projek strek tans oor ’n tydperk van drie jaar, met die doel om elke jaar ’n nuwe graad by te voeg – van gr. 8 tot 9, 10, 11 en uiteindelik gr. 12. Ons wil vir hulle hierdie vaardighede op ’n speel-speel manier leer,” voeg Bock by.

Volgens Bock het die projek ontstaan nadat ’n studie in 2012 getoon het dat daar ’n baie klein inname van plaaslike leerders by die Universiteit Stellenbosch is – “iets wat nie so moet wees nie”.

“Ons is veronderstel om ’n groot voedingsbron van studente vir die universiteit te wees, juis omdat die leerders van hier is. Maar die werklikheid is dat ons leerders se punte nie goed genoeg is en nie aan die minimum vereistes voldoen nie. Daarom is dit ons hoop om hierdeur ’n beter gehalte matrikulant op te lewer om sodoende ook groter plaaslike universiteitstoelating op te lewer.”

Die Wiskunde, Speel-Speel-projek word in samewerking met die Universiteit Stellenbosch en die Jannie Mouton-stigting aangebied.

Vir verdere navrae of om finansieel betrokke te raak by die Wiskunde, Speel-Speel-projek, bel Janice Carelse by 081 575 0951.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.