Het die ontwikkelaar van die voorgestelde Libertas-ontwikkeling geld aan die DA geskenk? Wat is die voordele van die ontwikkeling vir die Boord?
Hierdie is van die vrae wat verlede week in ’n stampvol Rynse Hoër Meisieskool-saal (Rhenish Girls’ High) gevra is op die inligtingsvergadering oor die voorgenome residensiële ontwikkeling op ’n gedeelte van die historiese Libertas-plaas langs Die Boord.
Vrae oor die skenkings van die ontwikkelaar aan die DA het ’n lewendige bespreking uitgelok en volgens een vraesteller behoort Stellenbosch se “DA-burgemeester” opsy te staan in enige appèlle wat in die toekoms tydens die aansoekproses ontvang word.
Volgens Gideon Roos, wat die vergadering namens die ontwikkelaar toegespreek het, sal die voorgenome ontwikkeling ’n voordeel vir Die Boord en Stellenbosch as geheel inhou deurdat dit die munisipaliteit se belastingbasis sal vergroot. Hy kon egter geen ander voordele noem nie.
Die hoofbesware deur inwoners teen die voorgenome ontwikkeling van net meer as 1 200 wooneenhede op sowat 55 ha van die plaas van 180 ha was: . Dit lê buite die stedelike grens van Stellenbosch.. Die grondgebruik is landbou.. Die bykomende voertuie van 1 200 wooneenhede kan groot verkeerschaos by die Van Reede-R44-aansluiting veroorsaak. . Die paaie rondom die bestaande skole naby het reeds volle kapasiteit bereik. Word ’n skool vir die nuwe ontwikkeling beplan?. Hoe lank gaan konstruksievoertuie nog lewe in Die Boord ontwrig?
Roos het aan die teenwoordiges verduidelik die aansoek sal in vier fases geskied en hierdie is die eerste wat oor beleidsaspekte gaan. Daarna moet die aansoek nog die goedkeuring van die departement van landbou verkry, daar moet ’n omgewingsimpakstudie gedoen word, en daarna sal ’n detail-aansoek om onderverdeling en terreinbeplanning plaasvind.
Sowat 120 ha van die 180 ha plaasgrond sal steeds as landbougrond bedryf word.
Esther Groenewald, die raadslid vir Wyk 22, wat Die Boord insluit, het op die vergadering gesê daar is drie sake waaroor die wyk nie sal kopgee nie – die landelikheid van Die Boord, die karakter van Die Boord en die erfenisstatus van die gebied.
Die Stellenbosch-munisipaliteit sê egter enige grondeienaar kan ’n grondgebruikaansoek indien. “Die munisipaliteit het ’n pligsorg om enige aansoek, wat aan die administratiewe vereistes voldoen, te verwerk. Hierdie prosessering van ’n grondgebruikaansoek beteken nie op sigwaarde dat die aansoek gesteun word nie. Die munisipaliteit moet in hierdie stadium slegs die aansoek verwerk en die proses van stapel stuur, voordat ’n besluit deur die munisipale beplanningstribunaal geneem word,” het die munisipale woordvoerder, Stuart Grobbelaar, gesê.
Grobbelaar sê die grondgebruikaansoek is vir openbare kommentaar adverteer. “Die aansoeker het op versoek van belangepartye ingestem om die tydperk vir openbare deelname tot 21 Junie vanjaar te verleng. Die partye het ook ingestem om ’n openbare vergadering in hierdie tydperk te hou.”
Hy voeg by: “Om die integriteit van die proses, wat nog in sy beginfase is, te verseker en alle betrokke partye te beskerm (die aansoeker, die belangepartye wat die aansoek ondersteun, sowel as die belangepartye wat die aansoek teenstaan), sal dit onverantwoordelik wees om kommentaar oor sekere opinies of besware te lewer. Die publiek word aangemoedig om van die openbare deelnameproses gebruik te maak om hul insette te lewer.”
Inwoners het nog tot 21 Junie om hul besware teen hierdie eerste fase van die aansoek in te dien.