Die Wes-Kaapse minister van gesondheid en welstand, dr. Nomafrench Mbombo, het Dinsdag 30 Mei die Stellenbosch akute psigiatriese eenheid (Apu) amptelik geopen. Apu vorm deel van verskeie infrastruktuurprojekte wat by die hospitaal aan die gang is.
Die totale begroting wat vir hierdie hospitaalwerk goedgekeur is, beloop tans R35,925 miljoen waarvan 28,6% tot op hede bestee is, met die bouwerk wat na verwagting teen einde Mei 2024 afgehandel sal wees.
Apu, wat sedert Februarie vanjaar in werking is, bevat vier manlike en vier vroulike beddens, asook ’n vierbed-afsonderingsarea.
Met distrikshospitale wat oorspronklik nie ontwerp is om Apu’s te akkommodeer nie, sal hierdie aangewese gebied die hospitaal baie help om die groeiende geestesgesondheidslas in die gemeenskap te probeer oplos.
Benewens hierdie eenheid is ook ’n splinternuwe hysbak geïnstalleer. Tans word die kraamsaal gemoderniseer en dit sal in die komende maand voltooi wees.
Daarna sal bouwerk begin met die volgende:
. Die sentrale steriele voorsieningsafdeling (SSD) en teater;
. Die B-, C- en kinderwyke;
. Die personeel en lesinglokale; en
. ’n Nuwe vullisgebied vir mediese afval.
“Stellenbosch-hospitaal is ’n 85-bed distrikshospitaal met 205 personeellede wat daagliks werk om gehaltesorg te verseker. Net in die 2022-’23-boekjaar is 7 715 pasiënte opgeneem, met 32 ??000 pasiënte wat in die noodsentrum behandel is en ’n verdere 18 332 besoeke aan buitepasiënte is aangeteken. Gedurende dieselfde tydperk is 713 operasies in die teater uitgevoer en 1 651 babas is in die fasiliteit gebore. Boonop is 300 pasiënte met ernstige geestesongesteldheid opgeneem,” sê dr. Natasha Blanckenberg, die mediese bestuurder van Stellenbosch-hospitaal.
Blanckenberg sê hoewel hierdie projekte nie die aantal beddens vermeerder nie, verbeter dit die gehalte van die infrastruktuur om dit ’n veiliger en meer positiewe omgewing te maak waarin pasiënte versorg kan word.
“Dit het ’n pragtige en doelgerigte gebou verseker wat ook ’n positiewe uitwerking op personeel se moraal het,” sê Blanckenberg.
“Die toevoeging van ’n Apu en hierdie infrastruktuur-projekte sal hierdie belangrike stuk infrastruktuur laat herleef,” het Mbombo bygevoeg.
“Stellenbosch-hospitaal bedien ’n voedingsgebied van ongeveer 200 000 mense waar, soos met alle gebiede in die provinsie, die gesondheidseise toeneem.
“Tydens die besoek het die impak van beurtkrag ook duidelik geword. Gedurende die 2022-’23-boekjaar is ongeveer R1,6 miljoen aan diesel vir hul kragopwekker bestee. Namate beurtkrag toeneem, word ons fasiliteite gedwing om broodnodige hulpbronne te herlei om ’n kwessie wat buite hul bedrywighede is te versag.
“Nietemin, ons toegewyde personeel en bestuur verseker dat die hospitaal voortgaan om gehalte-gesondheidsorg vir ons inwoners te lewer,” sê Mbombo.