Altesame 30 seniors van wyk 6 in Stellenbosch is voor Kersfees op ’n ete in die Idasvallei-biblioteeksaal getrakteer. Benewens die plaaslike raadslid, Nateshia Mcombring, is die ete bygewoon deur gaste en wykskomiteelede.
Wyk 6 strek vanaf Moffatstraat tot by Leliestraat, Botmanskopweg, Speler- en Dahliastraat en sluit ook die omliggende landelike areas soos Blue Jay (Timberlea), Nietvoorbij en Remhoogte in.
Verlede jaar het Mcombring verskeie gemeenskapsprojekte gehad, maar vanjaar wil sy fokus op ’n uitreikprojek met St. Josephs-kleuterskool.
Van die projekte van 2023 wat sy aangebied het, was die vlak 1-noodhulpopleiding wat gemik was op die verskillende sportkodes by die Idasvallei- en St. Idas-laerskole, die kleuterskole St. Josephs, Speelkring en Jessie Keet, Huis Noah, Golden Boys and Girls en die Hoërskool Lückhoff.
Sy het ook gehelp dat leerlinglisensie-opleiding beskikbaar is vir belangstellendes in haar wyk en inligtingsessies vir gr.9- tot gr.11-leerders wat by die huis was, aangebied om aanlyn aansoek te doen vir verskeie programme in die TVET-kolleges. Die inligtingsessies is heeljaar aangebied, sodat die leerders kon aansoek doen vir die programme voor die sluitingsdatum van 30 September 2023.
Mcombring het by die inligtingsessies as gasspreker opgetree en dit benadruk dat belangstellendes moet aansoek doen vir NSFAS-beurse om verder te studeer.
Nes verlede jaar wil sy ook vanjaar fokus op funksies wat projekgedrewe is of aan spesifieke temas gekoppel is, soos vir bejaardes waar hulle ingelig sal word oor welsynsinligting wat op die seniors betrekking het.