Die rasieleiers van die Hoërskool Stellenbosch is genooi om gedurende die winterskoolvakansie aan die nasionale kampioenskap in Durban deel te neem.
Hierdie sportsoort is slegs ses jaar gelede by die skool begin, en in hierdie kort tydperk het sewe leerders reeds hul WP-kleure verwerf – ten spyte van die feit dat slegs een of twee van die leerders in elke groep ’n agtergrond in gimnastiek het. ’n Paar van die leerders het selfs in ’n Disney+-fliek, getiteld Darby and the Dead, verskyn. Dit is verlede jaar in Kampsbaai verfilm. Hulle het ook hierdie jaar die goue beker by die atletiek-interskole vir hul kreatiewe danspassies verower.
Volgens Lisa Parrock, die span se afrigter, oefen die groep reeds maande lank aan ’n roetine vir die nasionale kampioenskap. “Die meisies werk amper dag en nag om hulself daarvoor reg te kry. Nie net hul deursettingsvermoë nie, maar ook hul lekker spangees en hoe mooi hulle as ’n span saamwerk, gee vir my baie vertroue in hul vermoë om in Durban goed te presteer.”
Sy voeg by die leerders rig mekaar af en leer saam, en die seniors in die span neem volle verantwoordelikheid daarvoor om die juniors te help.
“Ek voel die saamwerk en die feit dat hulle mekaar leer, maak hulle nogal spesiaal.”
Kiara Erwee, ’n matriekleerder in die span, sê dit was van kleins af haar droom om ’n rasieleier (cheerleader) te wees. “Ons groep sit altyd alles in om die beste te wees, werk regtig baie hard en leef ons passie vir cheerleading uit.”
Nog ’n matriekleerder, Aydin Conry, meen hulle sal goed vaar in die nasionale kampioenskap omdat hulle nie opgee wanneer dinge moeilik raak nie. “Ek dink ons verdien dit om vir ander mense te wys wat ons kan doen en waaraan ons so hard werk.”
Die span het ’n BackaBuddy-blad by BackaBuddy HSS Cheerleaders om geld vir die reis na Durban in te samel, wat R8 000 per leerder beloop. .