Die Real Sisters-kankergroep van Stellenbosch het onlangs doeke vir volwassenes en toiletware aan die Stellenbosch-hospies geskenk om te help met die onbaatsugtige diens wat dié hospies in die gemeenskap lewer.
“Die projek se naam was ‘Adopta Kimbie Bag’. Enigiemand kon vir ons ’n pak adult kimbies skenk om aan die hospies te skenk. Ons het meer as 100 pakke en toiletware ingesamel. Elke lid van Real Sisters-kankergroep moes ook elk vyf pakke of meer ingesamel het,” het Connie Gabriel van Real Sisters gesê.
Die toiletware is op 1 April tydens ’n klein seremonie by die Eikestadsaal oorhandig.
Volgens Gabriel was die oorhandiging ’n mooi en geseënde oggend saam met die hospies sowel as Stellenbosch se nuwe NGO, die Stellenbosch Cancer Warriors, wat ook doeke by die groep ontvang het om die gemeenskap mee te help.
Real Sisters beywer hulle vir kankerlyers en sien om na die nood van diegene wat deur kanker geraak is. Enigiemand wat graag iets wil skenk of net meer oor die groep wil weet, kan gerus die kaptein, Connie Gabriels, by 072 390 1937 bel.