Die reddingswerker Axel Mouton help vele mense deur van die moeilikste tye van hul lewe en meen sy deelname aan die internasionale World Rescue and Extrication Challenge (WREC) sal hom help om nog meer vaardighede te leer.
Om in die donker teen ’n berg uit te klim of in riviere te spring om ander te red, klink dalk soos iets uit ’n fliek, maar vir Mouton is dit deel van sy daaglikse werk. Die 40-jarige is verbonde aan die Stellenbosch-nooddienste en is een van drie reddingspersoneellede van die Kaapse Wynland-distrik wat aan die WREC in Portugal sal deelneem.
“Indien jy ’n held wil wees en dié werk wil doen om vinnig te jaag of om ’n uniform te dra, moet jy dit los. Mense sal sterf indien dít jou motivering is,” sê Mouton.
Saam met Donovan van Schoor van die Paarl-nooddienste het Mouton die Wynlande verteenwoordig en koning gekraai by die provinsiale kompetisie wat Donderdag 6 Junie in Worcester aangebied is. Nou sal hulle saam met reddingswerkers van Eden en die Weskus aan die internasionale kompetisie deelneem.
“Dit is ’n groot voorreg en ek was ’n bietjie uit die veld geslaan om genooi te word. Ons moet nou ons eie kostes dek, maar ons registrasiegeld is gelukkig reeds betaal,” verduidelik hy.
Mouton, wat in Stellenbosch gebore en getoë is, is oorspronklik van Jonkershoek. Hy het meer as ’n dekade gelede besef die nooddienste is vir hom.
“Ek was van kleins af mal oor ’n brandweerwa. My ouers vertel ek was altyd opgewonde om een te sien en ek het lankal gedink ek sal ’n brandweerman word,” skerts hy.
Die pad na die nooddienste was egter nie ’n reguit pad nie.
Dit was as klerk by Mediclinic in 2010 dat Mouton ’n geleentheid gesien het om as ’n ambulansman te kwalifiseer. “Die werk het dit duidelik gestel – indien ek die kursus gaan doen, het ek nie meer ’n pos nie. Dit was ’n moeilike besluit, want hier gaan jy van ’n versekerde werk, óf ek volg my droom.”
Mouton het egter besluit dit is sy kans, het bedank en besluit om die ses weke lange kursus by die Western Cape Emergency College in Tygerberg te voltooi.
Sy eerste aansoek by die provinsiale nooddienste was onsuksesvol, maar Mouton het intussen ’n pos by ER24-nooddienste gekry. Die tweede onderhoud by die provinsiale dienste was ’n sukses en sedert 2012 werk hy vir die Wes-Kaapse nooddienste. Mouton het later, in 2013, besluit om as tegniese reddingswerker gekwalifiseer.
“Ons is ’n gespesialiseerde eenheid vir soek, redding en onttrekking. Hierdie werk gaan nie net oor die tegniese vaardighede nie; jy moet ’n geestelike kapasiteit, empatie en liefde vir mense hê. Jy is dikwels ’n pasiënt se laaste hoop en indien jy weet jy het hulle in die beste van jou vermoë gehelp, was dit ’n goeie dag.”
Vir Mouton is dit sy vrou en twee seuntjies wat sy voete op die grond hou, en om in die natuur te wees, is deel van hoe hy die uitdagings van sy loopbaan verwerk.
Mouton en sy kollegas oefen nou hul mediese en tegniese vaardighede vir die WREC in November.
Die ervaring wat hy onder meer by die George-woonstelblok-tragedie en ’n onlangse bergredding in stormtoestande opgedoen het, sal nou op die proef gestel word.
Die kompetisie fokus op die uithaal van slagoffers uit voertuie ná motorongelukke, oftewel extrication. Mouton sê dit is ’n eer net om genooi te word en hy sien uit om by sy internasionale kollegas oor die wêreldwye standaarde vir noodreddingsdienste te leer.
“In hierdie loopbaan kry jy nie altyd ’n dankie of ’n klop op die skouer nie, maar dit is nie waaroor dit gaan nie. Die beloning is om ’n reddingswerker te wees, om te weet jy het iemand gehelp en die gevoel van innerlike vrede wat daarmee gepaard gaan.”
- Enigiemand wat Mouton finansieel wil ondersteun, kan hom by 084 824 3161 bel of e-pos stuur aan axelmouton470@gmail.com.