Vier Stellenbossers sal as deel van die SA span by die Krieketwêreldbeker vir bo-50’s hul dorp se naam omhoog hou. Van links is Wian Smit, Hennie Fourie (spanbestuurder), Riaan van de Rheede en Dave Bakker.


Die droom om die Groen en Goud by ’n Wêreldbekertoernooi te dra, sal vir vier plaaslike krieketspelers ’n werklikheid word wanneer hulle die land in Februarie 2025 in die Suid-Afrikaanse veteranespan (bo 50) in Sri-Lanka sal verteenwoordig.

Riaan van de Rheede, Dave Bakker en Wian Smit sal as lid van die Protea-veteranespan in Colombo uitdraf, terwyl Hennie Fourie as die spanbestuurder aangestel is. Al vier is lede van die Scorpions-krieketklub wat hul krieket by die Oude Libertas-sportterrein speel.

Hulle is vroeër vandeesmaand tot die Proteaspan verkies, nadat hulle in November uitstekende vertonings by die Afrika-beker in Namibië gelewer het. Tydens dié toernooi vir die bo-50’s-spanne van Zimbabwe, die gasheer, en twee SA spanne (Proteas en SA A-span), het hulle die keurders met hul kolf- en boulvernuf beïndruk, wat uiteindelik tot hul insluiting in die Protea-span gelei het.

Vir Van de Rheede, ’n inwoner van Jamestown, is sy keuring tot die span ’n jarelange droom wat waar word. Dié 58-jarige bouler is die afgelope 28 jaar lid van die Scorpions-klub en hy dra nou ook die voorsittershoed.

Hy was in 2018 deel van die SA Rhinos-span wat aan die eerste Krieketwêreldbeker vir spelers 50 jaar en ouer in Sydney, Australië, deelgeneem het. Toe was hy een van drie Suid-Afrikaners wat die Wêreld-elftal gehaal het en die enigste wat nooit die voorreg gehad het om vir Suid-Afrika krieket te speel nie. Die ander twee wat die span gehaal het, is Brandon Nash en Alan Dawson.

“Dit was ’n groot oomblik vir my, veral omdat ek as ’n persoon van kleur in Apartheid nie die geleentheid gehad het om provinsiale of internasionale krieket te speel nie,” sê Van de Rheede.

“Ek was die enigste speler in die span wat nie ’n baadjie as internasionale speler gehad nie. Dit was ’n hartseer, maar trotse en emosionele oomblik.”

Hy is nie vir die 2020-Wêreldbekerspan gekies nie, maar dié toernooi, wat in Kaapstad gehou sou word, is weens die Covid-19-pandemie ná twee rondes tot Maart 2023 uitgestel.

Van de Rheede, ’n onderwyser en hoof van sport by Bridge House in Franschhoek, het as 12-jarige vir die Burnley-krieketklub in Jamestown begin speel. In sy krieketloopbaan het hy vir die Westelike Provinsie-skolespan, SA skolespan en SA universiteitspan vir spelers van kleur gespeel.

“Sport was altyd deel van ons gesin – veral krieket. My groot droom was nog altyd om die Groen en Goud te dra; met dit het ek oor die jare ’n aanhaling van dr. Myles Munroe by my gedra: ‘The poorest person in the world is the person without a dream’. Nou het my droom uiteindelik ’n werklikheid geword,” sê Van de Rheede, die oudste speler in die SA span.

“Ek beplan om die toernooi en elke paaltjie wat ek daar neem, aan my oorlede pa, Jacky, en my oorlede vriend, AD Visser, op te dra. Ek sien werklik uit na die geleentheid om vir die eerste keer die Protea op my bors te dra en Suid-Afrika op internasionale vlak te verteenwoordig.”

Die SA span is saam met Pakistan, Wallis, Indië, die Wes-Indiese Eilande, Kanada en Australië in ’n groep, en sal dus ses groepwedstryde speel.

Van der Rheede se deelname aan die toernooi hang in die weegskaal, met elke speler wat R80 000 vir klere-, reis- en verblyfkostes moet opdok. Hy, tesame met sy Scorpions-spanmaats, is hard aan die werk met geldinsamelings en op soek na borgskappe om hul deelname moontlik te maak.

“Ongelukkig is daar nie veel ondersteuning vir veteraan-krieketspelers in Suid-Afrika nie; ons moet maar met elke toernooi ons eie onkostes dek,” sê Van de Rheede.

“Daarom doen ek ’n beroep aan die gemeenskap om asseblief my droom te ondersteun; enige skenkings en borgskappe sal hoogs waardeer word.”

  • Kontak Van der Rheede by 082 516 0805 vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.