Die registrasie vir die 2025 Sanlam WOW Spelfees is nou oop en deelname is heeltemal gratis.
Dit is die grootste spelfees in Suid-Afrika en skole en leerders van oor die land heen word genooi om in die volgende taalkategorieë deel te neem – Afrikaans: graad 1 tot 10; Engels: graad 4 tot 9; en isiXhosa: graad 6 tot 8.
Registrasievorms, spellyste en aanlyn speltoetse asook ander taalhulpbronne kan op hul webblad gekry word.
Vasgestelde spelfeesdatums en -venues sal met verloop van tyd gekommunikeer word.
Registrasie sluit Saterdag 31 Mei.
Die nasionale eindronde vind op 11 Oktober by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas.
“Ons beklink jaarliks al ons projekaksies met ‘n spesiale WOW Fees by ons sustersprojek, die Stellenbosch Woordfees, wie se tema vanjaar ‘deel’ is. Met die Sanlam WOW Spelfees nooi ons skole om deel te wees van ‘n beweging van hoop en aksie vir ons kinders se toekoms.
“Ons leuse vir die spelfees is ‘spel speel-speel’, en saam kan ons lewens spel-spel verander,” sê Fiona van Kerwel, WOW-bestuurder en onderwyskenner.
“Die Sanlam WOW Spelfees is die vlagskipprojek van Woorde Open Wêrelde (WOW), ‘n bemagtigingsinisiatief deur taal- en kultuurprojekte wat tans 21 jaar vier as deel van die US-afdeling Sosiale Impak en Transformasie.
Deur dié veeltalige platform kan leerders op ‘n prettige en opvoedkundige wyse met woorde omgaan om ‘n beter begrip van taal te hê en uiteindelik beter te kan kommunikeer,” verduidelik Van Kerwel.
“Ons help leerders om op ‘n verstaanbare, kreatiewe asook kritiese wyse te kan kommunikeer.
“Wanneer hulle moet opstaan om woorde hardop te spel of uit te klank, en vir ‘n definisie of sin vra, bou dit aan hulle selfvertroue en selfversekerdheid.
“Die aanlyn speltoetse en -taalhulpbronne help opvoeders ook geweldig baie ter voorbereiding, en ons werk met woorde uit die kurrikulum van die betrokke grade.”
In 2024 is 186 250 leerders van 745 skole geregistreer om in Afrikaans te spel, 159 750 leerders van 639 skole vir Engels, en 31 000 leerders van 124 skole vir isiXhosa.
Die resultaat was 219 spelfeeste met 27 225 deelnemers deur die jaar.
Meer as 500 deelnemers het vir die nasionale eindronde op Stellenbosch saamgekom.
• Om te registreer vir vanjaar se kompetisie besoek https://wow.woordfees.co.za/en/register/ of stuur ‘n epos na fionac@sun.ac.za vir meer inligting.