Sy naam word grotendeels met die wynbedryf geassosieer, waar hy die kennis en ervaring wat hy oor die jare in dié bedryf opgedoen het, gebruik om die produkte van plaaslike wynlandgoedere as media- en bemarkingskonsultant aan wynliefhebbers bekend te stel.
Maar, die oudjoernalis en wynskrywer Emile Joubert is ook ’n gesoute kortverhaal- en nie-fiksieskrywer, wat behoorlik deur middel van woorde kan toor en lesers op avontuurlustige reise met sy bundels neem. Dié 58-jarige het sy sesde bundel, Krummels in my koffer, in Mei bekendgestel – ’n memoire wat onder meer sy kinderjare, tyd in die weermag en reisavonture herroep.
“Ek het net herinneringe neergeskryf vir my ma, toe sy siek begin word het; sulke staaltjies wat ek uit ons kinderdae onthou: waar ons gewoon het, wat ons geëet het en hoe ons saam met my ouers deur Europa gereis het,” vertel Emile. “Toe brei dit uit tot ’n soort-van jeug-memoire in die herinneringe wat dit tans is… My lewe in Kaapstad langs die see, in die Paul Roos-koshuis, die weermag en as reisiger – met kos en die bereiding daarvan as die draad wat als saambind.”
Die Kapenaar en oud-Paarliet het ’n hegte band met Stellenbosch, waar hy daagliks by die sentrum van Suid-Afrikaanse wyn werk, en sy mense. Dis hier waar hy skoolgegaan en geswot het, en waar sy liefde en passie vir wyn en kos gebore is. Gedeeltes van sy nuutste uitreiking speel natuurlik in die Eikestad af.
“Ek was twee jaar in Paul Roos Gimnasium se Prima Nova-koshuis. Dis waar ek my voete as Stellenbosser gevind het – by die wonderlike skool sowel as in my koshuiskamer, waar die kabbelende Eersterivier my saans aan die slaap gesus het. Ek het ook hier respek gekry vir die mense wat daagliks drie maaltye vir ’n spul rasend-honger seuns moes voorberei,” verduidelik Emile.
Krummels in my koffer, wat deur Protea-uitgewers uitgee word, is sy derde nie-fiksie-boek en volg op die hakke van Vir vis en vaderland (geskryf onder die naam Tim Uys) en Kanonkop: The Making of a Legend, asook die kortverhaalbundels Die aptyt van Anna Blow, Kouefront en So byna blou.
Sy passie vir skryf is iets wat vanselfsprekend net gebeur het, want hy het in ’n huis vol joernaliste grootgeword en besluit om joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. “Ek kan werklik nie onthou dat ek enigiets wou doen behalwe skryf nie,” sê Emile. “As lid van Die Burger se Kunsredaksie is ons vryheid gegee om kreatief te wees in resensies en artikels. Die saadjie is geplant om ’n boek te ‘pleeg’. Een kortverhaalbundel word toe drie, asook twee nie-fiksie boeke. Verder skryf ek heeltyd aan rubrieke en vir my eie webwerf.
“Die kortverhale lê my na aan die hart, want my gunstelingskrywers is Ernest Hemingway en Herman Charles Bosman, al twee gerekende kortverhaalskrywers. Ek verkies om min te sê, maar woorde van betekenis te gebruik.”
Die trotse pa van drie jong vroue deel met sy skryfwerk meer oor sy reis-eskapades en die uniekheid van die lande wat hy oor die jare besoek het. Sy liefde vir reis van jongs af is deel van sy menswees en hy het as jong seun saam met sy ouers en sibbe in Kensington, Londen, gewoon en deur Europa gereis.
Sy gunsteling oorsese land om te besoek is Frankryk, wat natuurlik iets met sy liefde vir wyn en kos te make het. “Ek keer maar altyd terug na Frankryk. Omdat my lewe grootliks rondom wyn draai, kan ek net nie genoeg ervaring kry van daardie land se wynstreke, waar die wynkultuur – wat die beste wyne op aarde maak – al ouer as een duisend jaar is nie.
Maar dis in sonnige SA, hier in Stellenbosch, waar sy passie en liefde vir wyne en wingerde as laerskoolseun – toe die gesin van Londen teruggekeer het – gebore is. “My ouers het my vir ’n vakansie gestuur om op Kanonkop-wynplaas saam met Jan Boland Coetzee, wat toe die wynmaker daar was, te gaan bly,” onthou Emile.
“Ná vier jaar in Engeland kon toe geen Afrikaans praat nie, dus was die idee dat die plaas se omgewing my in staat sou stel om my Engels-geit af te skud. Die wynplaas met sy wingerde en kelder was onmiddellik bekorend met die reuke van druiwe en gis, en die pragtige landskap het my bekoor.
Dié oupa van ’n tweejarige meisie, wat hy sy “oogappel” noem, meen Stellenbosch het ’n spesiale plek in sy hart, maar dis veral die landskap en mense wat dié Bolandse dorp vir hom spesiaal en uniek maak. Dis juis waarom hy graag sy nuutste skryfwerk met Stellenbossers volgende Saterdag (11 Junie) by ’n geleentheid by die Protea-boekwinkel, waar Krummels in koffer ook te koop is, bekedstel.
“Dis die wit geboue en kaal akkerbome van Dorpstraat op ’n stil aand in die winter en die feit dat, ongeag wie of wat jy is, die berge om ons dorp altyd groter as jy sal wees,” verduidelik hy. “Ons is almal aparte, eie wingerdstokke op een stuk gedeelde grond. Daardie grond maak ons wie ons is, en die een het die ander nodig.”