Diewe het voorverlede naweek by die kantoor van die speurders by die Klapmuts-polisie ingebreek en ’n skootrekenaar gesteel.
Volgens AO Bernadene Arendse was alles nog in orde by die kantoor toe die speurder, wat aan diens was, die kantoor Vrydag (7 Oktober) omstreeks 16:00 gesluit het. Met sy terugkoms die volgende oggend het hy ’n gat in die plafon van die takbevelvoerder se kantoor gesien.
“Die kantoor was vol stof en hy het dadelik gesien dat die takbevelvoerder se skootrekenaar (ter waarde van R7 000) weg is. By verdere ondersoek het die speurder gesien die sondeur is oop en ’n motorband wat in die badkamer was, is in die gang geplaas. Die badkamer se diefwering is ook verwyder.
“Enigiemand met enige inligting kan die ondersoekbeampte sers. AJ Petersen by 021 875 8016 of 079 894 1769 bel.”
In ’n afsonderlike voorval is ’n 24-jarige vrou Sondag op ’n lemoenplaas in Klapmuts verkrag nadat ’n losprys eers vir haar vrylating geëis is.
Die slagoffer het die verdagte in Kraaifontein ontmoet nadat haar suster haar vertel het van ’n werk wat op Facebook geadverteer is. Nadat die verdagte en die slagoffer in Kraaifontein ontmoet het, het hulle na ’n vulstasie in Klapmuts geryloop. Hulle het toe na die lemoenplaas gestap, waarna die verdagte die slagoffer gegryp en gesê het hy het nie vir haar werk nie.
“Hy het verder saam met haar op die plaas gestap en gesê sy moet kontak maak met haar familie en hulle inlig dat sy ontvoer is. Hy het haar opdrag gegee om losprysgeld van R3 500 te vra. Die slagoffer het haar suster gebel en haar ingelig oor wat gebeur het, maar haar suster het gesê sy het nie soveel geld nie.
Hierna het die slagoffer haar kêrel gebel en vir geld as losprys gevra. Die verdagte het aan die kêrel gesê as hy nie die geld kry nie, sal hy haar doodmaak. Hierna het die verdagte die vrou verkrag.
Toe geld wat die kêrel oorgeplaas het, op die verdagte se selfoon wys, het hy die vrou aan ’n boom vasgebind en gevlug. Die slagoffer het haar ná sowat drie ure losgekry en hulp gaan soek.
’n Klagte is by die Klapmuts-polisie aangemeld en dit is na die Stellenbosch-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) oorgeplaas.