Renaldo ‘Naledi’ Young is ‘n bewys daarvan dat harde werk en deursettingsvermoë vrugte werp wanneer dit lyk asof alles teen jou is.
Die bynaam “Naledi” is deur vriende aan hom gegee terwyl hy op Paarl se bekende Stoepe gedans het. As een van die nuutste gekontrakteerde lede van die Sanlam Boland Cavaliers-span, het Young talle opdraande stryde trotseer terwyl hy daarvan gedroom het om ’n professionele rugbyspeler te word.
In 2023 het die Paarliet en oud-lerder van New Orleans Hoërskool sy eerste smaak van euforie gekry toe Springbok Sevens-afrigter, Philip Snyman, hom laat dink het hy het ‘n kans om vir die Blitsbokke tespeel.
“Dit was die naweek van die 2023 Rugbywêreldbeker-eindstryd en ek het in ‘n sewestoernooi gespeel,” onthou Young. “Die Blitsbokke het ook deelgeneem, en ek het die geleentheid gehad om my vaardighede teen hulle te toets. Na ons halfeindstryd het afrigter Philip my die duime omhoog gegee en later vir my kontakbesonderhede gevra.”
Die oproep om te oefen het nooit gekom vir Young nie, wat, soos tydens die COVID-19-pandemie, gewonder het wanneer sy groot deurbraak sou kom.Syy hoërskooljare by New Orleans was ook teleurstellend omdat daar geen oproep na ’n Boland Skole- of Akademie Skole-span was nie.
Na skool het Naledi by ’n ingenieursmaatskappy gewerk voordat hy by Drakenstein-munisipaliteit se wetstoepassingsafdeling aangesluit het. Gedurende hierdie tyd het hy vir sy jeugklub, Albions, gespeel.
Die vleuel het toe na die Boland Rugbyunie verhuis en in 2020 by Hillcrest United getsluit, maar COVID-19 het klubrugby tot stilstand gebring. Hierna het hy as lewensredder by ’n plaaslike munisipale swembad gewerk en moes weer sy professionele rugbydrome laat vaar.

“Die voordeel van werk as ’n lewensredder was om tyd in die swembad deur te bring en fiksheid te handhaaf totdat rugby heropen het,” verduidelik hy. “Toe WP-klubs weer begin speel het, het ek weer by Albions aangesluit voordat ek vir twee volle seisoene na Hillies teruggekeer het.”
Roses United het hom toe genader. Alhoewel sy nuwe klub nie in 2024 vir die Sanlam Boland Top 12 gekwalifiseer het nie, was Young verbaas toe die Cavaliers-afrigter hom na ‘n oefening nooi.
“Afrigter Hawies het vir my gesê hy sou my kies vir sy Boland-uitnodigingspan om teen die Sanlam Boland Top 12-droomspan te speel. Ek was die enigste lid wat nie van ’n Top 12-klub afkomstig was nie. Ek het geëerd gevoel om vir die eerste keer in Boland-kleure te speel, selfs al was dit nie vir die amptelike Boland-span nie.”
Terwyl hy as ’n drywer vir WeBuyCars gewerk het, het Young ’n deurslaggewende besluit in die gesig gestaar: om hom ten volle tot professionele rugby te verbind of ’n werkende semi-professionele speler te bly. “Ek het besluit dit is tyd om alles in te gaan.” In Januarie het hy by F7 Sports Management aangesluit, bestuur deur die Wellingtonse agent Shafiek Mouton.
Young vergelyk sy verhouding met Mouton met Jerry Maguire se spelersverhoudings in die Hollywood-fliek. “Shafiek het ’n belangrike rol gespeel sedert ek by F7 aangesluit het. Sonder hom sou dit nooit moontlik gewees het om hierdie punt as ’n professionele speler te bereik nie. Hy kyk voortdurend hoe dit met my gaan en adviseer my oor die doen en moenies van ’n professionele atleet.”
Naledi het sy amptelike debuut vir die Cavaliers op 12 April gemaak as ’n plaasvervanger in hul 52-3 SA Cup-oorwinning teen die Border Bulldogs. Die eerste wedstryd waarin hy begin het was ’n week later by Boland-stadion in die fenomenale oorwinning van 80-0 teen die Luiperds.
Die spoedvraat het nog nie sy eerste drie in swart en goud gedruk nie, maar glo hy sal hierdie droom in die Carling Currie Cup Premier Division verwesenlik.
“Ek het nooit gedink my Boland-debuut sou so vinnig kom met soveel kompetisie op vleuel nie. Kompetisie bring egter my beste na vore. Ek is opgewonde oor die Currie Cup-geleentheid – die spelers sal groter en vinniger wees, maar ek kan aanpas. Noudat ek ’n professionele rugbyspeler vir Boland is, is dit waar ek hoort, en ek wil dit nie prysgee nie.”
En op die vraag as Blitsbok-afrigter Philip Snyman uiteindelik daardie langverwagte besluit neem? “Sedert 2019 is dit ’n droom om sewes vir my land te speel. Ek sou myself graag teen die bestes wou toets, maar vir nou is my fokus om Boland te help om sy plek as ’n reus van Suid-Afrikaanse rugby te bou,” sluit Young af.



You must be logged in to post a comment.