Die Jakes Gerwel-stigting en die Oude Leeskamer in Stellenbosch bied vanjaar ’n uitsonderlike skryfgeleentheid vir twee gelukkige skrywers wat elk vir twee weke in dié historiese Bolandse dorp kan kom inspirasie vind.
Slegs aansoeke van die inwonende skrywers van die Jakes Gerwel-stigting se Paulet-huis (voormalig of tans) op KwaNojoli (Somerset-Oos) sal oorweeg word. Skrywers van alle genres sal oorweeg word.
Die Oude Leeskamer is ’n kultuur- en erfenissentrum wat gesetel is in ’n historiese gebou wat in 2017 die eiendom van die Jannie Mouton-stigting geword het. Ná ’n merkwaardige restourasieproses is die gebou in vyf spesiale ruimtes omgeskep, naamlik Jannie se leeskamer, ’n kunsgalery, ’n skrywerswoonstel, De Eetkamer-restaurant en die stigting se kantore.
Die visie van die Oude Leeskamer is om ’n toonaangewende erfenisbate te wees wat historiese waarde beskerm, maar terselfdertyd ’n lewende ruimte is waar Suid-Afrika se unieke en diverse kuns en kultuur gevier word.
Die suksesvolle skrywers sal tuis voel in die luukse skryfkamer en toegang tot die fasiliteite van die res van die elegante gerestoureerde gebou geniet. Die gelukkige skrywers sal verder ’n interessante program in die Eikestad aangebied word, wat spesiaal volgens die skrywer se belangstellingsvelde saamgestel sal word.
Die datums vir dié twee residensies (slegs een persoon op ’n keer) is van Maandag 22 April tot Maandag 6 Mei (sluitingsdatum vir aansoeke is Vrydag 1 Maart) en Maandag 14 tot Maandag 28 Oktober (sluitingsdatum vir aansoeke is Vrydag 16 Augustus).
Aansoeke word elektronies ingedien by https://jgf.org.za/residencies.
Belangstellendes moet ’n motiveringsbrief, ’n kort skrywersbio, volledige projekplan en voorbeelde van vorige skryfwerk insluit.
- Kontak Theo Kemp, die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting, by theo@jgf.org.za vir nog inligting.