Restaurantdroom: Gaan ek wag of waag?

Die gebou bekend as die Oude Poskantoor, wat die Stellenbosch-poskantoor langer as 80 jaar gehuisves het, het onlangs ’n nuwe restaurant, Post and Pepper, verwelkom.


Die gebou bekend as die Oude Poskantoor, wat die Stellenbosch-poskantoor langer as 80 jaar gehuisves het, het onlangs ’n nuwe restaurant, Post and Pepper, verwelkom.

Jessica van Dyk, die eienaar en hoof-sjef, en Dimitri Hadzigrigoriou (bestuurder) sê Post and Pepper is ’n droom wat waar geword het.

Die naam Post and Pepper word natuurlik afgelei van die Stellenbosch-hoofposkantoor wat voorheen in die gebou was, en volgens Van Dyk wou hulle ook hierdie sentimentele waarde, erfenis en geskiedenis beskerm en bewaar.

“Buiten die naam het ons byvoorbeeld die tema baie outentiek gemaak om dit by die pragtige klipmuur en veral die nywerheids-‘vibe’ wat die dak gee, te laat inpas. Dieselfde geld die verskillende soorte outentieke hout waarvan ons gebruik gemaak het.”

Van Dyk en Hadzigrigoriou het mekaar by hul vorige werkplek ontmoet en gereeld oor die moontlikheid van hul eie restaurant gesels. Volgens Van Dyk het vier van hulle gereeld as span bymekaar gekom. Hulle sou dan praat oor die houdings van klante en ander kwessies. Hierdie gesprekke het later glo verander in visies en drome vir iets meer, iets nuuts. “Ek onthou hoe ons altyd bymekaargekom het. Ons het altyd gepraat oor hierdie droom en fantasie van ons eie restaurant. Ek onthou, Dimitri wou nog altyd sy eie koffie brou. Ek wou nog altyd koesisters uitrol. Die ander het byvoorbeeld gesê hulle wil ook eendag saamkom, al is dit net om die skoonmaakwerk te kom doen.”

Hadzigrigoriou meen dit het as ’n “grap” begin, maar daardie grap is nou ’n werklikheid. “Ek sou nooit kon dink ons gaan dit regtig doen of begin nie. Iets wat eers ’n grap was, is nou ’n ware sakeonderneming.”

Van Dyk meen die begin van ’n restaurant het haar die geleentheid gegee om iets nuuts te begin en haarself uit te daag.

“Ek het net gevoel ek sal nie meer kan groei in die posisie waarin ek was nie. Ek het ook besef die lewe is kort; ek het onlangs ’n vriend wat eintlik pas sy droomwerk begin het, verloor. Dit het my laat besef, gaan ek wag of waag?”

Volgens Hadzigrigoriou is die restaurant rondom “familiewaardes, goeie kos en goeie wyn, lekker koffie en menswees” gebou, en hulle meen Stellenbosch is die perfekte plek wat hierdie eienskappe weerspieël.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.