Die drie soorte rooihoutbome (redwoods) is die hoogste, grootste en van die oudste bome op aarde. Die sierlike Kaliforniese kusrooihout (Sequoia sempervirens) reik die hoogste die hemel in en kan tot 115 meter haal. Daarteenoor het die reuserooihout (Sequoiadendron giganteum), wat van die Sierra Navada in Kalifornië kom, die grootste volume vir ’n boom.
Hulle kan ook tot 95 meter hoog groei en het baie dik stamme. Die een met die dikste stam is die sogenaamde General Grant-boom waarvan die stam op borshoogte ’n deursnit van 8,8 meter het. Die oudste een waarvan die ouderdom bepaal is, is meer as 3 200 jaar oud en is dus van die oudste lewende organismes op aarde. Hierdie bome is een van die baie aantreklikhede van die bekende Yosemite Nasionale Park in die VSA.
Die derde een is die sogenaamde dagbreekrooihout (Dawn redwood), maar die “dawn” verwys eintlik na die “begin van tyd”, want hierdie spesies (Metasequoia glyptostroboides) was altyd net bekend as ’n fossiel, totdat lewende eksemplare in China ontdek is. Dit groei ook baie hoog en is een van die min keëldraende bome wat, soos die moerassipres, bladwisselend is.
Mooi voorbeelde van al drie hierdie besondere bome staan binne enkele meters van mekaar in die Botaniese Tuin van die Universiteit Stellenbosch. Twee van hulle is geplant deur Stellenbosch se magistraat Ben Loots vir die geboorte van sy twee seuns, die Kaliforniese een op 15 Januarie 1955 en die Chinese een op 18 Junie 1956. In die botaniese tuin is daar ook ’n Kaliforniese rooihout naby die ou konservatorium (sien foto). Nog ’n manjifieke Kaliforniese rooihout staan by Old Nectar in die Jonkershoek-vallei. Dis in 1950 deur Una van der Spuy geplant, bekend vir haar mooi en groot tuin asook haar tuinboeke, by die geboorte van haar jongste seun.