Reusagtige kragrekenings skok

Verskeie munisipale kragverbruikers het verlede maand ’n skok gekry toe hulle hul Januarie-elektrisiteitsrekening van die Stellenbosch-munisipaliteit ontvang het. Volgens Nico Pretorius, uitvoerende hoof van Soluno, het hulle agtergekom daar is […]


Verskeie munisipale kragverbruikers het verlede maand ’n skok gekry toe hulle hul Januarie-elektrisiteitsrekening van die Stellenbosch-munisipaliteit ontvang het.

Volgens Nico Pretorius, uitvoerende hoof van Soluno, het hulle agtergekom daar is fout nadat van hul kliënte tamaaie kragrekeninge ontvang het. Dit was verbasend, veral omdat Soluno die instansies gehelp het om hul elektrisiteitsverbruik met hul sonkragstelsels te verminder. “Die verskil tussen wat ons verwag het die rekening sou wees en wat dit is, was meer as R50 000 in een geval. Ek het die kliënte aangeraai om die munisipaliteit te kontak en hul vorige rekeninge te vergelyk. Ons het gevind die rekening van verlede maand was identies aan dié van Januarie 2024. Dit het glad nie sin gemaak nie, want in sommige gevalle het kliënte ’n surplus elektrisiteit opgewek tot op die punt waar hulle elektrisiteit terug in die munisipale netwerk kon stoot,” verduidelik Pretorius.

Die munisipale verbruikers, wat die teenstrydigheid opgespoor het, is almal kommersiële verbruikers in Techopark en Onder-Papegaaiberg.

Nóg een van Pretorius se kliënte is ’n maatskaplike organisasie wat juis die sonkragstelsel gebruik om hul rekeninge te verminder en hul ligte aan te hou.

By navraag het die munisipaliteit verduidelik ‘n nuwe diensverskaffer, Livewire, is aangestel en het die lesings op 1 Februarie oorgeneem. Die munisipaliteit het verduidelik weens die oorgangstydperk is die grootmaat-elektrisiteitsverbruikers se lesing vir Januarie geskat. Vir sommige Stellenbossers is hierdie skatting egter ‘n groot finansiële knou.

Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, het verduidelik die korrekte werklike lesings is ontvang en ’n regstelling is reeds aan die gang. “Ons ondersoek het getoon dat ‘n klein groep kommersiële en residensiële grootmaat-verbruikers geraak is. Geen grootmaat-elektrisiteitverbruiker word gewoonlik geskat nie, hoewel skattings wel toelaatbaar is in terme van die munisipale raad se goedgekeurde Elektrisiteit Beleid en Verordening,” verduidelik Grobbelaar.

Hy het bevestig die skattings was weens die oorgangsproses en krediete vir munisipale rekenings word bereken volgens die raad se goedgekeurde elektrisiteitstariewe.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.