Rheado sprei sy sokkervlerke

’n Jong sokkerspeler van Klapmuts het vandeesweek na Amerika vertrek om sy droom om ’n beroepsokkerspeler te word, na te streef.


’n Jong sokkerspeler van Klapmuts het vandeesweek na Amerika vertrek om sy droom om ’n beroepsokkerspeler te word, na te streef.

Rheado Kipido, ’n graad 10-leerder aan die Hoërskool Cloetesville, het gister (Woensdag 6 April) saam met Ikapa United, onder leiding van Richard Poole, na Dallas in Texas vertrek.

“Ek is baie trots op wat ek tot dusver bereik het, en ek is baie opgewonde, want dit is ’n droom wat waar geword het,” sê Rheado.

Die toer sal drie weke duur. Ikapa United is vir die afgelope 21 jaar deel van die Annual International Football Youth Tournament in Dallas. Jong suksesvolle spelers van oor die hele Wes-Kaap word gekies om deel te wees, en Rheado is die enigste speler uit Stellenbosch en die Kaapse Wynland.

“Dit is die eerste keer dat ek oorsee gaan speel, maar dit is gewis nie die laaste keer nie. Ek glo dit sal vir my deure open en ek dink elke opkomende sokkerster hunker na ’n deurbraak, en ek dink hierdie is myne,” sê hy trots.

“Duisende kollege- en universiteit-talentsoekers, van spanne soos Manchester United, Liverpool FC en Bayern Munich, wat na nuwe talent oral ter wêreld soek, gaan daar wees. Spelers soos Wayne Rooney en Ronaldinho het ook in dié toernooi gespeel.”

Hy vertel hy was 10 jaar oud toe hy begin sokker speel het.

“Ek het later vir Maties gespeel, waar Mitch Linders my afrigter was. Hy het in my geglo; hy sou vandag baie trots gewees het. Ek oefen elke liewe dag, al is ek alleen op die veld – van Maandag tot Sondag. Sokker laat my vry voel; dit gee my vlerke.”

Rheado is ’n doelskieter en daarom is dit geen verrassing dat die Brasiliaanse doelskieter Neymar Jr. sy held is nie. “Hy het ’n besonderse sokkertalent waarvan baie van ons net kan droom.”

En, net soos Neymar Jr., sal Rheado ook graag eendag vir FC Barcelona in Spanje wil speel.

“Ek wil eerstens my Hemelse Vader bedank vir die talent wat hy my gegee het, en ook my ouers, wat my grootste ondersteuners is, my gemeenskap van Klapmuts, die Mooihawens-gemeente wat vir my bid, almal wat finansieel bygedra het – in besonder my raadslid, mnr. JC Anthony, en my ouma, Cindy Paulse, wat ’n afskeid vir my by haar huis met my gunstelingkos en nagereg gehou het.

“Ek wil hulle uit die diepte van my hart bedank, want sonder hul bydraes sou dit dit net ’n droom gebly het,” voeg hy by.

Vir ander jong spelers sê Rheado: “Hou uit, hou aan; jou deurbraak kom.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.