Dit is nog nie te laat om in te skryf vir die langverwagte Rhodes Quality-halfmarathon in Wellington nie.

Die SAD-Safari-halfmarathon was langer as 30 jaar een van die voorste hardloop-uitdagings in die Boland. Nou het ’n nuwe borg, naamlik Rhodes Quality, die borgskap van hierdie vooraanstaande halfmarathon in die Boland oorgeneem.

Dit word op Werkersdag – Woensdag 1 Mei – beslis.

Hoewel die wedloop ’n nuwe baadjie het, gaan dit steeds ’n top-hardloop-geleentheid wees, wat ook deel van Boland Atletiek se halfmarathon-kampioenskap sal wees.

Benewens die gewilde halfmarathon-afstand sal daar ook 10 km- en 5 km-wedlope wees wat op ontspanningsdeelnemers en gesinne gemik is.

Die geleentheid begin en eindig weer in die nabyheid van Hugenote Hoërskool in Wellington. Die roete sluit skouspelagtige natuurskoon in en is ideaal vir alle vlakke van hardlopers, insluitend stappers, aangesien daar amptelik geen spertye is nie.

Almal wat hul wedloop in die verskillende afstande voltooi, sal ’n medalje ontvang.

Daar sal ook in die spysenierings- en drankbehoeftes van deelnemers en toeskouers op die wedloopdag voorsien word, met talle stalletjies op die perseel wat ’n verskeidenheid kosprodukte sal verkoop.

Die halfmarathon word al vir 35 jaar aangebied en is ook ’n gunsteling onder elite- en klubhardlopers van oor Suid-Afrika heen, wat om die aansienlike prysgeld meeding.

Deelnemers aan die halfmarathon sal ’n geskenkpak ontvang, gevul met ’n verskeidenheid heerlike Rhodes Quality-produkte.

Ander vennote sluit in die Wellington-atletiekklub en die Wellingtonse Rapportryers.

Hierbenewens is die Drakenstein-munisipaliteit ’n jare lange ondersteuner en vennoot, aangesien die geleentheid werk skep en toerisme ’n hupstoot gee, met baie hardlopers en hul gesinne wat Wellington en die omliggende gebiede besoek om deel te neem of hul gesinslede op die wedloopdag te ondersteun.

Talle liefdadigheidsorganisasies het ook die afgelope 35 jaar voordeel uit die wedloop getrek en die benoemde liefdadigheidsorganisasie en begunstigde in 2024 sal die Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum wees.

Inskrywings vir die 21 km-wedloop kos R205 (lisensie) en R280 (geen lisensie), terwyl hardlopers van die 10 km-wedloop R145 (lisensie) en R195 (geen lisensie) betaal. Deelnemers aan die 5 km-wedloop betaal R60 elk.

Slegs 300 inskrywings word vir die vooraf-wedloop aanvaar, en die koste vir dit beloop R370 (20,5 km) en R270 (14,5 km).

’n Rhodes Quality-groen-en-goud-inskrywing kos R1 000. Dit sluit in ’n versamelaars- en amptelike Rhodes Halfmarathon-drafhemp en pet, ’n paar drafsokkies, parkering, ’n geskenkpak en toegang tot die BBP-gebied.

  • Besoek www.topevents.co.za om in te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.