Die Plankenburg-rivier is een van die riviere waar besoedeling glo algemeen is is. Foto: Francois Lombard


Die toestand van riviere in die Stellenbosch-omgewing is in die soeklig ná die plaaslike AfriForum-tak sy aandag op die vermeende besoedeling van natuurlike waterbronne in die Eikestad gespits het.

Dit volg nadat lede van die tak glo klagtes van beweerde besoedeling van die Plankenburg-, Veldwagters- en Eersterivier by die organisasie ingedien het.

“Watermonsters is geneem en by ’n plaaslike SANS 241-geakkrediteerde laboratorium laat ontleed. Die toetsresultate dui op gevaarlike vlakke van rioolbesoedeling in die Plankenburg-, Veldwagters- en Eersterivier,” sê die burgerregteorganisasie in ’n verklaring.

AfriForum het vroeg in Oktober ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) vrae en inligting rakende die toestand van die riviere aan die Stellenbosch-munisipaliteit gerig.

“Die munisipaliteit was veronderstel om vroeër vandeesmaand (November) terugvoer hieroor aan AfriForum te verskaf, maar die terugvoertydperk is [in die eerste week van November] op versoek van die munisipaliteit met nóg 30 dae verleng. Hulle het dus nou tyd tot vroeg Desember om antwoorde oor dié waterkrisis te bied,” lui die verklaring.

Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, sê hulle het na afloop van ’n vergadering met munisipale beamptes in Augustus spesifieke inligting rakende die doeltreffende bedryf van die rioolsuiweringswerke en watergehalte van die riviere versoek. Die vergadering is glo deur Gesie van Deventer, die burgemeester, en Geraldine Metler, die munisipale bestuurder, bygewoon.

Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, het by navraag bevestig die munisipaliteit sal voor die 30-dae-tydperk alle inligting tot sy beskikking aan AfriForum verskaf.

Benade het bygevoeg dat hulle risiko’s rakende die watergehalte en die gevaar wat dit vir dorp se ekonomie kan inhou, aan die beamptes uitgewys het.

“Ons het onder meer gewys op die invloed wat waterbesoedeling op uitvoerregte van veral vrugte na Europa kan hê, en die handelsmerkskade wat dit die plaaslike toerisme- en wynbedryf kan berokken,” sê hy.

“Daarbenewens hou die waterbesoedeling in dié riviere ook ’n gesondheidsrisiko in vir gemeenskappe wat naby die riviere woon en kinders wat in die rivierwater speel.”

Grobbelaar het die vergadering tussen die rolspelers as “positief” bestempel.

“Ons is bewus van een afgesonderde voorval by die betrokke aanleg wat weens beurtkrag veroorsaak is, maar binne ure herstel is. Die onlangse oorstromings het ook natuurlik baie riviere en rivieroewers in ons streek beïnvloed,” sê Grobbelaar.

Benade sê aksie moet spoedig geneem word om te verhoed die rioolbesoedeling van die riviere vererger. “[Die munisipaliteit] behoort dringend in te gryp om die waterprobleme hier hok te slaan en daarom sal AfriForum voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas.”

You need to be Logged In to leave a comment.