Die stank wat inwoners van Riverside Vrydag 31 Januarie geruik het, was weens ’n pyp wat gebars het en nie weens ’n “gewone” lekkasie nie.
Dit was die terugvoer van die Stellenbosch-munisipaliteit nadat die GOOD-party ’n verklaring uitgereik het oor inwoners se kommer oor die vermoedelike lekkasie van riool in die Dwarsrivier.
Volgens die raadslid Grechard Petersen is inwoners bekommerd oor die gesondheids- en omgewingsrisiko wat die lekkasie vir die gemeenskap kan inhou. Petersen sê inwoners het die oorweldigende stank van rou riool in die lug aangemeld terwyl besoedelingstowwe wat in die Dwarsrivier geloop het, sigbaar was.
“Dit was met ’n inspeksie duidelik dat rou riool uit ’n munisipale rioollyn naby die Pniël-substasie lek. Dit is kommerwekkend dat inwoners aangedui het dat dit die derde soortgelyke voorval binne die huidige boekjaar is, wat hul nood en frustrasie verder vererger,” sê Petersen in ’n verklaring.
Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, het egter by navraag gesê die gebarste pyp was by ’n
Petersen meen egter die situasie spreek tot Pniëllers se deurlopende frustrasies. Een só ’n gereelde kopseer is riool wat glo gereeld – vir die afgelope 15 jaar – uit man-gate in Riversidestraat en Eastendsingel vloei.
“Ten spyte van herhaalde versoeke van inwoners vir dringende opgradering van infrastruktuur en talle skakelings met beide die vorige [Gesie van Deventer] en huidige uitvoerende burgemeester [Jeremy Fasser] en top- senior munisipale amptenare in gemeenskapsvergaderings, is hul pleidooie vir begroting en doeltreffende optrede geïgnoreer. Hierdie voortdurende verwaarlosing het tot ’n toenemende gevoel van hopeloosheid en frustrasie gelei,” meen Petersen.
Die munisipaliteit sê op sy beurt hy is toegewy om “betroubare infrastruktuur wat aan die departement van water en sanitasie se voorskrifte voldoen” aan inwoners te verskaf.
“In ooreenstemming hiermee het ons die munisipale begroting vir die pypvervangingsprogram van R4 miljoen tot R8 miljoen verdubbel en hierdie werk is aktief aan die gang,” sê Grobbelaar.
Hy het ook bevestig ’n brief is by die kantoor van die Speaker ingedien en sal Woensdag 26 Februarie op die volgende raadsvergadering bespreek word.