Inwoners van Pniël eis ‘n oplossing by die Stellenbosch munisipaliteit vir wat hulle ‘n 27 jaar lange probleem by die plaaslike pompstasie noem.
“As kinders het ons almal hier leer swem. Ons het hier leer visvang en het hier gespeel en baljaar. Daardie dae is verby en die munisipaliteit sit liewer kennisgewingsborde op om te sê niemand moet hier swem nie,” vertel Andrew Cyster.
Hy en sy bure – David Morris, Paul Cyster, Ronald Williams en Angus Simmers – sê ten spyte van talle vergaderings, klagtes en kommentare by hul jaarlikse geïntegreerde ontwikkelingsplan-vergaderings (GOP) is daar steeds geen permanente oplossing vir hul kopseer met die nabygeleë pompstasie, op die hoek van Riversidestraat en Eastend-singel, nie.

Hulle vertel rioolwater loop gereeld in die aangrensende strate af – soms tot in hul erwe – en skep ‘n onhigiëniese omgewing wat ‘n gesondheidsgevaar inhou. “Om nie eens te praat van die stank en die vlieë wat die oorstromings tot gevolg het nie,” sê Cyster.
In Riversidestraat en Eastend-singel oorstroom etlike mangate gereeld. Die rioolwater spoel dan straat-af en loop tot in die Dwarsrivier.
Daarby breek die gepaardgaande infrastruktuur glo elke jaar ‘n paar keer. Hoewel werkers later kom skoonmaak en die waterpyp, wat in die rivier loop, vervang, meen die inwoners hul munisipale belasting word nie vir kritieke infrastruktuur aangewend nie.
“Ons het onlangs weer in ons GOP-vergadering gesit en dieselfde kommentaar op die tafel gelê. Hierdie klagtes is al vir die afgelope 10 jaar op die GOP-program,” verduidelik Williams.
“Ons hoofversoek is vir die pompstasie om uit die buurt verwyder te word,” sê Paul Cyster, ‘n inwoner van Eastend- singel. “Die oorstromings is ‘n probleem wat opgelos kan word. Elke keer kom iemand uit en hulle werk net so effentjies aan die probleem, maar daarna sit jy steeds met dieselfde probleem die volgende dag of die volgende week en selfs die volgende jaar.”
Inwoners voer aan dit is ‘n gesondheidsgevaar omdat voertuie tydens oorstromings deur die “e-coli-sop” na hul erwe ry, waar hul kinders speel en waar hul troeteldiere is.
Die watergehalte van die rivier is nog ‘n groot kommer.
Ten spyte van kennisgewings wat swem in die rivier verbied, swem kinders van Lanquedoc gereeld op warm dae hier.
Die inwoners meen die rivier, saam met die natuurskoon van die dorpie, is deel van Pniël se erfenis, maar die erfenis word geskend deur die pompstasie wat nie werk soos dit moet nie.
‘GEREELDE TOETSE’
Die Stellenbosch-munisipaliteit het by navraag gesê die pompstasie werk teen die fasiliteit se kapasiteit.
“Die watergehalte van die Dwarsrivier word gereeld deur ‘n onafhanklike diensverskaffer gemonitor. Die gemeenskap word herinner dat swem in die rivier verbied word omdat watergehalte moontlik kan wissel ten spyte van voortdurende verbeterings van die Pniël-afvalwaterbehandelingsaanleg,” sê Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder.
Met verskeie ontwikkelings wat vir die gebied in die vooruitsig is, is die inwoners ook bekommerd oor wat sulke uitbreidings vir die rioolprobleem sal beteken.
Grobbelaar verduidelik egter die Pniël-pompstasie bedien slegs die dorpie self en het genoeg kapasiteit om die afvalwater na die Pniel-rioolsuiweringswerke te pomp.
“Daar is geen onmiddellike planne om die bestaande fasiliteit op te gradeer nie, aangesien dit in die munisipaliteit se jongste rioolmeesterplan vir buite-bedryfstelling geïdentifiseer is. Slegs noodsaaklike herstelwerk aan die pyplyn, wat die Dwarsrivier oorsteek, is onderneem.”
GROTER STASIE BEPLAN
Volgens die munisipaliteit is die huise in Riversidestraat nie laer as die pompstasie geleë nie. ‘n Groter pompstasie – die Dwarsrivier-pompstasie – word beplan, wat uiteindelik Pniël en Lanquedoc se pompstasies sal vervang.
Die projek, wat beraam word teen R4 miljoen vir die 2026-’27-finasiële boekjaar en nog R3 miljoen vir die daaropvolgende boekjaar, sal oor die rivier in Lanquedoc gebou word.
Grobbelaar sê afvalwater van die omlilggende gemeenskappe sal hierheen gepomp word. Die nuwe pompstasie sal met ‘n swaartekrag-stelsel werk en die nood vir kleiner pompstasies uitskakel.
“Haalbaarheidstudies is aandie gang om die optimale ontwerp en vloeikonfigurasie te verseker en as sodanig is finale konstruksietydlyne en kosteberamings nog nie bevestig nie,” verduidelik Grobbelaar.
Intussen sê die Pniëllers hulle oorweeg om hul klagte verder te neem in die hoop om ‘n oplossing vir hul water- en rioolprobleme te kry.





You must be logged in to post a comment.