Yaël Malgas
Vier of vyf keer ‘n jaar, sedert hulle by hul woning in Rustenburgweg ingetrek het, kry ‘n Idasvallei-gesin ‘n onaangename verrassing – rioolwater wat in hul erf opdam.
Volgens die Van Breda’s is hulle moeg van die jarelange onsmaaklikheid wanneer ‘n nabye munisipale rioolpyp verstop en toiletwater hul erf, en dié van hul bure, ‘n stinkende modderpoel maak.
“Dit is regtig ‘n aaklige besigheid. Alles stoot op en kom hier uit. Alles wat mense in hul toilette wegspoel – van sanitere produkte tot die toiletpapier.”
Aubrian van Breda
Hy sê klagtes aan die Stellenbosch-munisipaliteit lewer nie veel oplossings nie. Van Breda meen die munisipaliteit moet ‘n langtermynoplossing vind, aangesien dokterspreekkamers langs sy woning ook aan die onhigieniese toestande blootgestel word.
“Dit was so erg my vrou kon nie eens die wasgoed ophang nie,” het van Breda vandeesweek gekla nadat sy erf weer eens met riool oorpoel is.
By navraag het die munisipaliteit se woordvoerder, Stuart Grobbelaar, gesê daar is planne om die probleem vir eens en altyd op te los. “Die probleem is ‘n uitsondering wat plaasvind wanneer ‘n munisipale rooilpyp in Rustenburgweg geblok raak. Die munisipaliteit maak skoon en ontsmet die omgewing wanneer dit gebeur,” sê hy.
Die blokkasie van die rioolpyp word volgens die munisipaliteit veroorsaak deur allerhande voorwerpe wat in die rioolstelsel beland. Met die pyp wat verstop word, hoop die water op, wat beteken rioolwater stroom dan by die naaste drein op, of vloei terug in huiseienaars se rioolpype.
“Rioollyne wat onder swaartekrag vloei, het ook ‘n gradiënt en blokkasies kan in verstoppings eindig of by mangate oorloop.”
Van Breda sê op sy beurt hy moes verlede jaar, ter voorbereiding van ‘n moontlike oorstroming, sy nuwe braaihoekie in die agterplaas hoër as die res van die erf bou.
“Ek moes nou al my plante uithaal en weggooi, want die erf is besmet met menslike ontlasting. Ek wat belasting betaal, moet met die onhigiëniese toestande saamleef. Die menslike afval lê in my erf en ek moes uit my sak mense kry om te kom skoonmaak.”
Die munisipaliteit beplan om in Julie te begin om die pyplyn in die pad te vervang.
“Die munisipaliteit se rioolmeesterplan het die Rustenburg-rioolpyplyn geïdentifiseer, wat na ‘n lyn met ‘n groter deursnee opgegradeer sal word. Dit sal nodig word wanneer die huidige riooluitlaat sy kapasiteit bereik,” verduidelik hy.
- Inwoners wat soortgelyke probleme met munisipale infrastruktuur het, word versoek om dit deur die Let’s Fix It-platform aan te meld. Stuur ‘n Whatsapp-boodskap na 076 951 0768, of e-pos na engineering.services@stellenbosch.gov.za. Probleme in Stellenbosch, Klapmuts, Khayamandi, Jamestown en Raithby moet by 021 808 8215, 021 808 8953 of 021 808 8343 aangemeld word. Skakel 021 808 8890 of 021 808 8891 ná kantoorure.