Tydens somervakansies het hy busse vol kinders na die strand laat aanry. Nou wonder die Cloetesville-gemeenskap wie dié taak by wyle Jerome Williams (56) sal oorneem.

Volgens Williams se jonger suster, Marlene Simons, het haar broer ‘n manier gehad om met mense te praat wat hulle in sy planne laat inkoop het. Sy vertel toe iemand voorstel sy neem die aangeleentheid oor, was haar antwoord eenvoudig “daar was net een Rome”.

“Rome”, soos Jerome be- kendgestaan het, is voorverlede Vrydag (25 Julie) ná ‘n kort siekte oorlede.

Simons sê die familie weet nie regtig wat fout was nie, maar Jerome het die afgelope ruk gewig verloor. Hy is in die Eersterivier-hospitaal oorlede.

“Dit sou ‘n onreg wees om nie vir Rome hier in die gemeenskap waar hy so baie beteken het, te groet nie,” sê Simons.

Jerome, sy twee broers en Simons het in Cloetesville grootgeword. Hy was in sy jonger dae by verskeie sportkodes betrokke en was op die atletiekbaan, sokkerveld en rugbyveld in aksie. Hy het ook gehelp om plaaslike netbal- en sokkerspanne te stig.

Medelye vir Jerome se familie is deur verskeie Stellenbossers getoon, met talle wat Rome ‘n beskermengel van die gemeenskap genoem het.

Die bestuur van Stellenbosch-Wynland-netbal beskryf Jerome as ‘n “groot boom wat geval het”. “Hy was een van die netbal-stigters en was oom en pa – ‘n alles-in-een vir almal. Sy hart was oop en hy was ‘n staatmaker vir almal wat op sy pad gekom het. Jerome Williams, you were one of a kind,” sê die bestuur.

Hy het oor die jare by verskeie meubelwinkels in Stellenbosch gewerk en was volgens sy familie ‘n gebore verkoopsman. Hoewel hy nie self skool voltooi het nie, het kinders Jerome na aan die hart gelê en hy was die beheerliggaamsvoorsitter vir Cloetesville Primêr.

“Hy het nie van skool gehou nie en het altyd van mnr. Adonis by Cloetesville Primêr af weggehardloop. Rome was net tot gr.7 in die klaskamer, maar hy was nie dom nie. Ja, hy het ook ‘n verlede gehad en was by verkeerde dinge betrokke toe hy jonk was, maar nadat ons neef hier in Cloetesville vermoor is, het Rome besef hy gaan óf tronk toe, óf sterf.

“Rome was by verskeie politieke partye betrokke, maar dit was eintlik net ‘n manier om sy gemeenskapswerk te doen. Dit was die belangrikste. Daarom het hy elke Desembervakansie busse gereël om die kinders see toe te vat. Hy was ook by sopkombuise en

talentkompetisies en vele ander projekte betrokke. Hy sou hier inval en sê ons moet help en dan, voor jy jou oë kon uitvee, help jy knie en bak vir uitdeel,” vertel Simons.

Sy meen haar broer se dood laat ‘n leemte in die gemeenskap, maar sy gemeenskapswerk spreek van sy lewe van omgee.

• ‘n Roudiens word vanaand (Donderdag 7 Augustus) om 18:00 in Cloetesville Primêr se skoolsaal gehou. Williams se begrafnisdiens vind Saterdag (9 Augustus)om 10:00 by Currystraat 70 plaas, waarna die verrigting om 11:00 na die skoolsaal, oorkant die pad, sal beweeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article