Marisca Engelbrecht (links) en Nichola Viviers het stukkende plastiekhoepels as wegspring gebruik en daarvolgens op die kleurskema van geel en groen besluit. Foto’s: Stephan Meyer


Marisca Engelbrecht en Nichola Viviers, albei graad 10-leerders aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het groen vingers wat ook kan naaldwerk doen.

As deel van die skool se ekoweek het hulle aan Terra, die skool se ekovereniging, se Mej. Eko-Bloemhof deelgeneem en is as die aand se wenners gekroon.

“Dit was vir ons pret om iets te skep wat aan hoogmode herinner, maar heeltemal uit gebruikte voorwerpe wat herwin is, bestaan,” sê Nichola, wat die ontwerpershoed gedra het. Marisca het die uitrusting modelleer. “Alles wat ons gebruik het, beland tipies op ’n ashoop.”

Hul uitrusting het uit groen plastieksakke bestaan met die hoepels wat om die middellyf en bene hang en aan ’n gordel van katkosbokse vasgemaak is.

“Om die rok af te rond, het ons oorbelle van koeldrankblikkies se oopmaakringetjies gemaak en ’n halssnoer van opgerolde koerantpapier,” verduidelik Marisca.

Nog ’n ontwerp wat uitgestaan het, was Rohannette Janse van Vuuren (gr. 10) se e-afval-bostuk wat uit die toetse van ou sleutelborde gemaak is en deur haar vriendin Frances van Rooyen gedra is.

You need to be Logged In to leave a comment.