Die skrywer Lelanie Roode tydens die bekendstelling van haar nuwe boek, ‘Olifant op ’n sweefstok’, by die Hoërskool Stellenbosch. Foto:

Credit: SYSTEM

Die Stellenbosch-inwoner Lelanie Roode het onlangs haar nuwe boek, Olifant op ’n sweefstok, gepubliseer. Dit is op 31 Mei by die Hoërskool Stellenbosch by ’n gesellige geleentheid bekendgestel en word deur Naledi-uitgewers uitgegee.

Johan van Zyl, uitgewer en eienaar van Naledi, het Lelanie geprys en gesê dat hy in sy uitgewersloopbaan nog nie iemand soos Lelanie ontmoet nie.

“Sedert ons ontmoeting verlede jaar by die Stellenbosch Woordfees tot vandag was die reis wat hierdie outeur en uitgewer geloop het een opwindende reis. Lelanie se entoesiasme en passie vir haar skryfwerk is aansteeklik.”

Olifant op ’n sweefstok is ’n aksiebelaaide roman wat handel oor swem en die Olimpiese Spele. Die leser word meegevoer deur die drama, intriges – en vuurwarm romanse. Daarom is dié storie vir lesers 16 jaar en ouer.

Oor die titel sê Lelanie: “Olifant kom van die Engelse metafoor Elephant in the room. Daardie onderwerp wat almal van bewus is, maar niemand oor praat nie. Daar is heelwat olifante in die storie, waarvan die grootste die onderlinge chemie en dinamiek tussen die karakters is. Die sweefstok het ’n tweeledige simboliek en dit verteenwoordig die liefde. ’n Sweefstok is ’n vierhoek. In hierdie verhaal is verskillende karakters, nie in die tradisionele liefdesdriehoeke nie, maar in verskillende vierhoeke van gebeurtenisse.

“Almal wonder soms op ’n sekere vlak hoe ’n warm vry in ’n koue swembad voel? Dit gaan oor droom en hoop, uitdagings en teleurstellings. Oor ekstase en dat die lewe kort is en tog ook baie lank. Dat dit nie liefde is wat seermaak, weggooi, verwerp, bedrieg of verneder nie, maar dit is mense wat dít doen,” voeg sy by.

Lelanie het vier kinders en tussen vrouwees, ma-wees, dosent en swemafrigter-wees het sy stories geskryf.

Kinderboeke, ook ’n vorige roman, Poorte: Elke seisoen het ’n storie, wat handel oor ’n alkoholis wat rehabiliteer in die Seweweekspoort in die Klein-Karoo.

Olifant op ’n sweefstok is tussen inperkings in 2020 en 2022 geskryf toe Lelanie deur verskillende traumas in haar lewe gewerk het. ’n Ope-hart-operasie nadat sy in hartversaking gegly het, haar geliefde pa se siekbed en afsterwe en toe ook ’n blindekol-egskeiding ná ’n huwelik van byna 30 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.