Rooskleurige toekoms wag op teologie- en musiekstudente by US danksy R50-miljoen-erflating

Die toekoms lyk rooskleurig vir talentvolle voorgraadse en nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie en musiekdepartement danksy ’n reuse-erflating van R50 miljoen wat in ’n skenker se laaste testament aan die un


Die toekoms lyk rooskleurig vir talentvolle voorgraadse en nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie en musiekdepartement danksy ’n reuse-erflating van R50 miljoen wat in ’n skenker se laaste testament aan die universiteit bemaak is.

“Ons praat gereeld oor die transformatiewe mag van gee – en hier sien ons dit in aksie,” sê Karen Bruns, senior direkteur van ontwikkeling en alumnibetrekkinge aan die US. “Die skenker het gekies om anoniem te bly en, hoewel ons daarvan sou gehou het om die naam van hierdie persoon met hierdie toekomsvisie in die openbaar te noem en te vereer, sal ons hul wens respekteer. Ons is egter ongelooflik dankbaar. Hierdie wonderlike geskenk van opvoeding sal ongetwyfeld ? blywende nalatenskap skep.”

Volgens Hugo Steyn, die US se waarnemende direkteur vir vername skenkings, is die skenking spesifiek geoormerk vir beurse aan finansieel-benadeelde voorgraadse en nagraadse studente aan die fakulteit teologie en die departement musiek.

“Die geld sal belê word en ? volhoubare jaarlikse inkomstestroom skep waarby talle teologie- en musiekstudente in die toekoms sal baat vind. Die eerste ronde van finansiering sal binnekort beskikbaar wees en ons behoort van 2025 af beurse te kan toeken,” verduidelik Steyn.

“Beursprogramme is van kardinale belang om toegang tot hoër onderwys te bied. Hierdie programme oorbrug die finansiële gaping vir talentvolle studente en verseker sodoende dat hul potensiaal nie weens ekonomiese beperkings verlore gaan nie.”

Prof. Reggie Nel, dekaan van die fakulteit teologie by die US, voeg by: “Godsdienstige gemeenskappe speel steeds ’n deurslaggewende rol op ons vasteland en spesifiek om geregtigheid, vrede en genesing te bewerkstellig. Dit het by tye in hierdie roeping gefaal deur bloot sy eie belange te dien. Hierdie skenking sal verseker dat die nougesette studie van hierdie gemeenskappe en die vorming van die leiers daarvan in dialoog met al die verskillende wetenskappe en verskillende wêreldbeskouings plaasvind, ten einde die gemeenskaplike belang te dien. Die skenker moet geloof word vir hierdie nalatenskap vir geslagte wat kom. Dit sal ’n diep spoor in ons land en op ons vasteland laat.”

Volgens prof. Mario Nell, voorsitter van die departement musiek, is beurse vir studie in musiek baie belangrik. “Dit help om finansiële struikelblokke uit die weg te ruim, bevorder gelyke geleenthede en help met die bevordering van uitnemendheid in die musiekkunste. Beurse kan ondersteuning bied aan toegewyde studente om hul volle potensiaal te ontsluit en uiteindelik die breër gemeenskap met hul talent verryk, wat bydra tot maatskaplike samehorigheid deur middel van kulturele aktiwiteit – ’n visie wat ons by die US se musiekdepartement as noodsaaklik beskou.”

Prof. Wim de Villiers, die US se rektor en visekanselier, het sy waardering vir die skenker se vrygewigheid uitgespreek. “Hierdie skenking aan ons universiteit sal talentvolle studente in staat stel om hul teologiese en musikale doelwitte sonder finansiële bekommernisse na te streef. Die skenker se visie en onwrikbare toewyding aan hoër onderwys in Suid-Afrika is ’n inspirasie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.