Inwoners wat op Stellenbosch-plase woon, het in Augustus onder rowers deurgeloop met twee afsonderlike voorvalle net verlede week.

Die Stellenbosch-polisie is op soek na verskeie vermeede rowers nadat ‘n vrou in Welgevonden-rylaan van haar selfoon beroof is. Die vrou het Dinsdag 26 Augustus om 07:23 in haar motor gewag dat ‘n plaashek vir haar oopgemaak word toe sy deur ‘n rower gekonfronteer is.

Sy het ‘n man by haar venster gesien, wat vir haar selfoon gevra het. Toe sy die venster toemaak sonder om haar foon oor te gee, het die rower ‘n skoot in die motor se deure afgevuur.

Die vrou het haar venster oopgemaak en die selfoon oorhandig voordat die verdagte, met ‘n klapmus oor sy kop, weggehardloop het.

‘n Saak van roof en poging tot moord word deur die Stellenbosch-polisie ondersoek.

In ‘n afsonderlike geval op Woensdag 27 Augustus is ‘n man van ‘n plaas op die Polkadraaipad omstreeks 01:15 deur twee gewapende rowwers wakker gemaak.

Die verdagtes was in swart klere geklee. Volgens die klaer was hy geskok en vreesbevange toe hy twee mans – een met ‘n panga en die ander met ‘n vuurwapen – in sy slaapkamer aangetref het.

Die verdagtes het glo die lig aangeskakel en aangedring op geld en ander waardevolle artikels en wou weet waar die kluis is. Die klaer se 96-jarige ma was ook in die woning.

Die verdagtes het ‘n Glock 23-vuurwapen, 16 stuks ammunisie en een magasyn, twee iPhone-selfone, ‘n skootrekenaar, ‘n beursie met verskeie kaarte, nog ‘n ekstra magasyn met 15 stuks ammunisie en ‘n K-way-baadjie gebuit.

Beide die man en sy ma is ongedeerd en die rowers het ná vyf minute van die toneel af gevlug.

Niemand is nog in verband met die twee voorvalle in hegtenis geneem nie.

  • Die Stellenbosch-polisie vra enigeen met inligting oor die voorvalle om 021 809 5012/15 of 082 522 1912 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article