Gewapende rowers het verlede Donderdag (1 Desember) by Shoprite in Klapmuts toegeslaan en die supermark van duisende rand beroof.
AO Bernadene Arendse, ’n woordvoerder van die Klapmuts-polisie, het bevestig die voorval het omstreeks 07:30 plaasgevind toe die rowers die winkel met vuurwapens bestorm het.
Die rowers het in die proses met ’n veiligheidsbeampte, wat op die rooftog reageer het, gestoei. Hy is aangerand en sy vuurwapen is afgevat.
“Volgens die ondersoekbeampte kon hulle nege verdagtes (op die kringtelevisiemateriaal) sien. Hulle vermoed nog iemand is ook betrokke,” sê Arendse.
Nadat die rowers die winkel van R146 290 beroof het, het hulle uit die gebou beweeg en ’n voertuig in die parkeerterrein gekaap.
“Die bestuurder was in sy motor in die parkeerterrein toe hy gekaap is. Die voertuig is agterna in Sandringhampad opgespoor en aan die eienaar terugbesorg.
“Die vuurwapen van die veiligheidsbeampte, wat op die misdaad gereageer het, is nog nie teruggekry nie.