“Jou histologie is terug en dit bevestig kanker.”
Dís woorde wat ek soort van verwag het, maar nie wou hoor nie. Dit was Vrydag 8 Maart vanjaar.
Wat begin het as ’n toets vir slaap-apnee, het vir my in ’n prostaatkanker-diagnose geëindig.
Op 49 is ek amper “te jonk”, want prostaatkanker is mos vir ou mans – maar dis ’n mite. Ja, dit kom baie meer voor onder mans bo 50, maar dit maak jou nie immuun omdat jy jonger as 50 is nie.
Ek het middel Januarie vanjaar ’n kardioloog gaan spreek, wat ’n verskeidenheid toetse gedoen het – waaronder ’n PSA-toets. Dis ’n bloedtoets wat die vlakke van die prostaat-spesifieke antigeen in jou bloed meet. Die uitslag van dié toets kan dui op verskeie toestande, soos ’n vergrote prostaat of prostaatkanker.
Die telling van my PSA-toets was verhoog en ek is na ’n uroloog verwys, wat verdere toetse soos ’n DRE (“daai vingertoets”) gedoen het.
Dit het daarop gedui dat als nie pluis is met my prostaat nie en toe het hy voorgestel dat ek ’n prostaatbiopsie ondergaan.
Dit het bevestig dat ek prostaatkanker het.
Baie mans is bang vir “daai vingertoets”, maar dis drie sekondes van ongemak wat heel moontlik jou lewe kan red.
In my geval is die beste behandeling ’n radikale prostaatektomie. Oor ’n paar maande (ek moet eers gewig verloor) word ’n radikale prostaatektomie (totale verwydering van die prostaat) gedoen en as als goed verloop, behoort ek kankervry te wees, hoewel daar geen waarborge is nie.
Die afgelope paar jaar word kanker by al meer jonger mense gediagnoseer, maar dit kan – volgens verskeie navorsingstudies – bloot wees omdat tegnologie verbeter het en baie meer kankers baie vroeër gediagnoseer word.
Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se webblad is die kanker wat die meeste onder mans voorkom, prostaatkanker, en onder vroue is dit borskanker.
Volgens die Wêreldgesondheids-organisasie (WGO) se internasionale agentskap vir kankernavorsing sal een uit elke vyf mense wêreldwyd in hul leeftyd kanker ontwikkel. “Die voorkoming van kanker het een van die mees betekenisvolle openbare- gesondheid-uitdagings van die 21ste eeu geword. Dit speel ’n kritieke rol in die stryd teen kanker.
“Gebaseer op huidige wetenskaplike bewyse, kan minstens 40% van alle kankergevalle voorkom word met doeltreffende primêre voorkomingsmaatreëls, en verdere sterftes kan verminder word deur vroeë opsporing van gewasse.”
Kanker is dus nie noodwendig ’n doodsvonnis nie, maar dit moet ook nie afgemaak word as iets wat “nie met my sal gebeur nie”.
Ná my eerste konsultasie by my uroloog het ek dadelik begin oplees oor prostaatkanker – wat dit is, hoe dit versprei, hoe dit bestry word, wat gebeur indien dit nie behandel word nie – en dit het gehelp om my geestelik voor te berei as ek wel die slegte nuus kry.
Die stryd teen kanker is halfpad gewonne wanneer jy weet presies waarteen jy veg. Dikwels weet mense by wie kanker gediagnoseer word, nie wat om te verwag nie, en dit kan sieldodend wees.
Die vrees vir die onbekende is hel, maar deur die onbekende te verander in die bekende, raak die vrees baie minder van ’n faktor.
Ja, natuurlik is ek bang dat ek nie 100% van die kanker ontslae gaan wees ná die operasie nie, maar ek weet ook dat enige oorblywende kanker beveg kan word.
Vandag weet ek baie meer oor prostaatkanker as wat ek sewe of agt weke gelede geweet het, en bewapen met daardie kennis en met die ondersteuning van my geliefdes en ’n merkwaardige spesialis se vaardighede kan ek hierdie bul by die horings pak – en hom verslaan.
Ek deel hierdie baie persoonlike storie, want dalk help dit ander mans om die PSA-bloedtoets gereeld te laat doen, want dit is die maklikste manier om uit te vind of jou prostaat gesond is.
Vir meer inligting, oor prostaatkanker besoek gerus na www.cansa.org.za; www.mskcc.org; https://www.mayoclinic.org en www. cancerfoundation.org.za/prostate-cancer/
- Ben Burger is die bestuurder van Boland Media en WP Media se uitleg- en proefleesafdeling.