Rudi Claase sing treffers

Die Drostdy-teater in Stellenbosch bied volgende maand (Februarie) nog twee verhoogproduksies wat gehore nie wil misloop nie!.


Die Drostdy-teater in Stellenbosch bied volgende maand (Februarie) nog twee verhoogproduksies wat gehore nie wil misloop nie!

Kaartjies is beskikbaar vir die akoestiese weergawe van Nataniël se nuutste verhoogskepping, Lovesick Tim wat van Donderdag 17 tot Sondag 19 Februarie opgevoer word.

Met splinternuwe stories in Engels en Afrikaans kyk hierdie vertoning na liefdesliedjies van die vroegste tye tot die heel nuutste neigings, die jazz van die 40’s, die kronkel van die 50’s, die vryheid van die 60’s, die hartseer van die 70’s en die nimmereindigende evolusie van liefde en chaos in popkultuur. Nataniël kondig met trots aan dat Lovesick Tim ’n “groen” produksie is. (Ons planeet versmoor!) Alle kostuums of rekwisiete word geskep uit herwonne materiaal, lang-bewaarde lap uit die argief, ontdekkings uit “vintage”- versamelings en aankope van liefdadigheidsprojekte. En ure se geduldige handewerk! Skouspelagtig soos altyd, verantwoordelik soos nodig. Nataniël deel die verhoog met Steinway-pianis Charl du Plessis. Kostuums deur Floris Louw.

Vertonings van Lovesick Tim vind weeksdae om 19:00 plaas, met twee vertonings om 15:00 en 19:00 op Sondag. Geen onder 16’s word toegelaat nie. Kaartjies kos R290 en kan aanlyn deur Computicket bespreek word.

In die tweede produksie, Van my wysie af, sing Rudi Claase vir die heel eerste keer die grootste treffers uit sy pen, op sy manier, wat hy vir homself asook ander kunstenaars geskryf het, en deel die storie wat elke liedjie geïnspireer het.

Rudi is bekend vir die treffers wat hy geskryf het soos “Sewe Oseane”, “Tussen Woorde”, Droë Riviere”, “Onthou My”, “Sterrelose Hemel”, “As ek Sing”, “Drome”, “Perel vir ’n Kroon”, “Reën Oor My”, “Donker Hart”, “Ek huil Oor Jou”, “Ek haal weer Asem” en vele meer.

Die vertoning word om 15:00 Sondag 27 Februarie aangebied. Kaartjies teen R150 kan aanlyn deur Computicket bespreek word.

Besoek gerus die teater se webtuiste: drostdyteater.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.